Hard newsNews

Inwoner jaag boosdoeners weg met braaitang

Die verdagte wou hom met die panga oor die kop slaan, maar Bredell het met sy hand gekeer en vier van sy vingers is raak geslaan.

MBOMBELA – ‘n Inwoner van ‘n kleinhoewe het Dinsdagaand ‘n boosdoener wat met ‘n panga gewapen was, die stryd met ‘n braaitang aangesê. Die geluk was beslis aan sy kant aangesien die boosdoener se makker boonop ‘n pistool op hom gerig en die sneller getrek het, maar die skoot het nie afgegaan nie.

Mnr. Tertius en me. Wilma Bredell is al 17 jaar op die kleinhoewe by die Landboukollege woonagtig. Mnr. Bredell is ‘n dosent by die kollege en het vertel dit was die eerste keer wat hulle aangeval is.
Me. Bredell het net voor 20:00 op die bank gaan lê en televisie gekyk terwyl haar man buite ‘n vuur aangesteek het sodat

hulle kon vleisbraai. “Ek het ‘n man met ‘n blou oorpak om die draai sien kom, maar gedink dis dalk een van die plaaswerkers,” het sy vertel. Toe hy by haar langs die bank kom staan het sy egter besef wat aangaan.
Haar man was op die punt om die vleis op die kole te gooi toe iemand vir hom skielik vir hom sê om stil te bly. ‘n Man met ‘n panga het langs hom gestaan en toe hy opkyk het nog ‘n man met ‘n 9mm pistool vir hom gestaan en kyk. Bredell het nie net vir sy eie lewe gevrees nie, maar vir sy vrou s’n ook. Hy het besluit om terug te baklei en het die man met die panga met sy braaitang aangevat.

Die verdagte wou hom met die panga oor die kop slaan, maar Bredell het met sy hand gekeer en vier van sy vingers is raak geslaan. Die ander boosdoener het die pistool op hom gerig en die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie. “Hy het meer as een keer die sneller getrek, maar niks het gebeur nie,” het Bredell vertel.

‘n Derde verdagte het sy vrou intussen in die sitkamer rondgeruk. Haar trui en bloes is in die proses geskeur. Die man het ‘n boutsnyer in sy hand gehad en wou haar ook oor die kop slaan. “Ek het hom in die oë gekyk en vir hom gesê: ‘Jesus will save you! Hy het die wapen hoër opgelig en ek het harder geskree,” vertel sy. “Hy het die boutsnyer laat sak en verboureerd rondgekyk.”

Haar man het onverpoos terugbaklei. Hy het die twee verdagtes agterna gesit en hulle met water gegooi toe sy braaitang gebreek het. Die derde verdagte het besluit om die aftog te blaas en uit die huis gehardloop. Al drie hetop die vlug geslaan. Slegs ‘n Blackberry is gebuit.

Me. Bredell het dadelik haar dogter gebel en dié het Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit ontbied. Bossie’s Community Justice, die polisie, twee ambulanse en J&M Sekuriteit was ook spoedig op die toneel. “Dit kon erger gewees het. God was in beheer,” het me. Bredell gesê.

Hulle glo ook hierdie bende is moontlik verantwoordelik vir ander aanvalle in die area. Mnr. Bredell is later meegedeel dat drie mans later die aand in Mbombela aangekeer is toe hulle ‘n vragmotor wou kaap. “Die verdagtes het blykbaar agter op die vragmotor gespring, maar die bestuurder het na die polisiestasie gejaag,” vertel hy.
Twee mans is aangekeer, maar ‘n derde het ontsnap.

Die Bredells sou gister (Donderdag) vir ‘n uitkenningsparade na Hazyview polisiestasie gaan. Dit is glo die enigste stasie in die Laeveld met ‘n eenrigting-ruit vir dié doel. Me. Bredell is dankbaar dat hulle nie ernstig beseer is nie en sy glo dat daar baie engele saam met hulle daardie aand was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button