Hard newsNews

Verdagte aangekeer vir moord op geliefde veearts

Mokoena word vermoedelik met verskeie ander misdade verbind - onder andere moord en verkragting.

WITRIVIER – ‘n Somber atmosfeer het Maandag in die plaaslike landdroshof geheers waar vriende styf langs mekaar gesit het om mekaar te ondersteun toe die verdagte wat dr. Rensia de Wet verlede week vermoedelik wreedaardig verkrag en vermoor het, vir die eerste keer in die hof verskyn het.

Puik ondersoekwerk het gelei tot ‘n arrestasie Saterdag toe die polisie ‘n wenk ontvang het – etlike oomblikke nadat Bossies Community Justice (BCJ) ‘n beloning van R50 000 uitgereik het vir enige inligting wat sou lei tot ‘n arrestasie en suksesvolle vervolging.

Volgens mnr. Jacques Meiring van BCJ het die polisie in Mbombela ‘n oproep onvang en onmiddellik gereageer. Lede van die tak op Witrivier het by hulle aangesluit en ‘n 22-jarige man is die oomblik toe hy uit ‘n minibus taxi geklim het in hegtenis geneem.

Meiring het bygevoeg dat die informante nou ‘n klein bedrag van die beloning sal ontvang en dat die res van die geld uitbetaal sal word as die verdagte skuldig bevind word. Hy het elkeen wat maandelik finansieël tot Bossies bydra, bedank en gesê dat dit juis in gevalle soos hierdie ‘n reuseverskil maak.

Die hof het gehoor dat die verdagte, mnr. Frans Mokoena, steeds klere van De Wet tydens sy arrestasie in sy besit gehad het. Hy het ‘n maand lank by Nottinghill Equastrian Estate gewerk waar De Wet vermoor is. Hy het Maandag doodluiters agter die beskuldigdebank ingeskuif en aangedring dat bekende strafproseswet prokureur mnr. Coert Jordaan hom verteenwoordig. Hy het gesê dat hy ‘n prokureur by die “huis” het en het Jordaan se naam herhaaldelik genoem.

Mokoena het arrogant voorgekom en is verskeie kere deur die landdros stilgemaak. Hy het onder andere apartheid blameer vir die feit dat hy alleen in die hof verskyn het. Hy het gesê hy is bekommerd oor die feit dat “die ander beskuldiges” vrygelaat is en hoe die hof die saak hanteer.

Volgens AO Hendrik (Grobbies) Grobler het Mokoena Saterdagaand nog twee mense uitgewys wat vermoedelik ook vir die aanval op De Wet verantwoordelik was. Grobler het egter bevestig dat hulle nie met die misdaad verbind kon word nie.

Mokoena het ook aangevoer dat hy deur die polisie aangerand is en dat hy mediese hulp geweier is.

Die hof het egter verneem dat hy wel vir ‘n volledige ondersoek geneem is en behandeling ontvang het.

Mokoena se vingerafdrukke is na bewering in bloed op die moordtoneel gevind en Grobler het bevestig dat ‘n gedeelte van De Wet se lip ook tydens die voorval afgebyt is.

Mokoena word vermoedelik met verskeie ander misdade verbind – onder andere moord en verkragting.

Die hof het gehoor dat dit nog ondersoek word. Dit is nie duidelik of Mokwena ‘n Suid-Afrikaanse burger is nie.

De Wet se halfnaakte lyk is Dinsdag deur ‘n niksvermoedende vriendin, me. Kraai du Preez, in haar woonstel by Nottinghill aangetref. Sy was ‘n vooraanstaande perdevoedingspesialis en geliefde veearts en vriendin in die gemeenskap.

Mokoena word aangekla van huisbraak met die doel om te roof en ernstig te beseer, asook moord en verkragting. Hy is borg geweier en sal weer op 12 Januarie in die hof verskyn.

Me. Landé Willemse, ‘n vriendin van De Wet, het gesê hulle is verlig en baie beïndruk met die polisie se fantastiese werk. “Ons weet die saak is nou in bekwame hande en dat die reg sy gang sal gaan.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button