
Dit blyk of wagte wat kabels oppas waarskynlik een van die enigste daadwerklike oplossings is om diewe van die R40 af weg te hou.
Motoriste wat in die aand in die rigting van Riverside ry, moes dié week vir die soveelste keer die pad in die donker aandurf omdat die kabels oënskynlik wéér gesteel is.
Hoewel die munispaliteit nie voor druktyd op navrae reageer het nie, het Nelspruit Post by die wagte op die N4 gaan aanklop om te hoor hoe effektief hul oplossing is.
Hierdie wagte pas die kabel wat na die Mbombela Stadion lei, 24 uur, sewe dae ‘n week op.
Volgens mnr. Thobeka Mthethwa en mnr. Andrew Thabethe van J&M Sekuriteit, kan hulle nie bekostig om nie op hul pos te wees nie.
“Ons sien telkemaal ouens wat verdag voorkom en dis ons verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle nie die kabel steel nie,” het hulle verduidelik.
Hulle meen dis veral in die aand wanneer hulle meer op hul hoede moet wees. “Dit is ‘n baie besige roete en die verkeersvolumes gedurende die dag sowel as die sigbaarheid van polisievoertuie help om boosdoeners weg te hou. In die aand maak ons egter elke uur ‘n draai onder die brug om seker te maak niemand is besig om met die kabel te peuter nie.”
Hulle vertel dat hulle elke uur ook ‘n verslag skryf oor presies wat hulle waarneem.
Daar is altyd twee wagte aan diens wat 12-uurskofte werk.
Afgesien van die muskiete wat pla, verkies hulle egter om nagskof te werk wat van 18:00 tot 06:00 strek.
Hulle moes al verskeie kere inspring en boosdoeners verjaag, maar reken dis ‘n baie effektiewe manier om diefstal te voorkom. Hulle stel voor dat soortgelyke oplossings by ander probleemareas, soos die R40, oorweeg word.
“Ek werk al van November 2012 af hier en hier was nog nooit ‘n ernstige voorval nie,” het Mthetwa trots vertel. “Dis beslis ‘n goeie manier om kwaaddoeners weg te hou,” sê hy.
