
MBOMBELA – Gemeenskapslede het Maandag begin om ‘n vrou se huis, wat deur weerlig getref is en gevolglik byna heeltemal afgebrand het, te herstel. Haar sitkamer en kombuis het afgebrand en die vuurtonge het tot in haar kamer gestrek.
Me. Maré Kuhn het Vrydagaand omstreeks 18:00 in haar bed gelê en lees toe weerlig haar krag uitgeslaan het. Nadat sy ‘n kers aangesteek het, het sy rustig verder gelees. Sy het egter ondersoek ingestel toe sy ‘n geknetter gehoor het. Sy het eers gedink dit is die bure se hond wat soos gewoonlik teen haar deur kom krap, maar het met ‘n skok gevind dat haar sitkamer aan die brand was.
“Alles het gebrand – my sitkamerstel, tafels, alles. My kombuis was ook in ligte laaie. My yskas en al my elektroniese toestelle het van die geweldige hitte gesmelt.”
Kuhn is geskei en bly alleen in ‘n eenslaapkamerwoonstel in Rocky Drift.
“Al die mense wat in die omtrek bly het kom help,” sê sy. “Hulle was daar voor die brandweer. Van my breekware en messe is gered en party mense het van my klere deur die slaapkamervenster gegooi. Verder het ek niks.”
Kuhn het nie versekering nie en sal nou van voor af haar lewe moet herbou.
Sy huur die woonstel by Mr. Tinus Botha. “Ons kan baie gelukkig wees dat die brandweer binne minute hier was, ander sou al die huisies op die erf gebrand het,” sê Botha.
“As gevolg van al die ysterklip in die omgewing, het ons ‘n vreeslike probleem met weerlig in hierdie area,” sê Botha. “Verlede jaar het ons bure se grasdakhuis as gevolg van die weerlig heeltemal afgebrand.”
Nóg Kuhn nóg die Botha’s het versekering en daarom voel hulle nie ‘n nood om ‘n polisie-ondersoek in te stel nie. “Almal in die omgewing gaan maar help om die huisie weer op te bou,” sê Botha.
