
MBOMBELA – ‘n Man wat op gewapende rowers geskiet het, wat besig was om sy buurman aan te val, word nou vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie aangekla.
Mnr. Deon Cronjé en sy vrou, Melissa woon op ‘n kleinhoewe op die Cairn-pad en is Maandagaand hier oorval. Melissa het pas hul maand oue babatjie gevoed en op die stoep gaan ontspan toe drie mans, een met ‘n panga en die ander met vuurwapens, op haar afgestorm het en haar die huis ingedwing het.
Die Cronjés vermoed die mans het toegang deur die draad verkry. Deon was in die badkamer en op die punt om in die stort te klim, toe hy sy vrou hoor skree. “Toe ek die deur oopmaak het ek gesien hoe die mans my vrou en negejarige dogtertjie vasbind,” het hy vertel.
Die verdagtes het hom kaal uit die badkamer geruk en na die res van sy gesin in die sitkamer gedwing. Hy het jare gelede sy arm in ‘n ongeluk verloor en die verdagtes het gesukkel om hom vas te bind. Sy vyfjarige seuntjie was baie verward en het begin huil.
Die Cronjés se huishulp het agter in die huis gestort en kon gou genoeg na die bure se huis vlug toe sy die geskree gehoor het. Sy het alarm gaan maak by mnr. André Brand en sy gesin wat oorkant die Cronjés woon. Volgens Brand het hy en vriende in die huis gesit en kuier toe sy eie huishulp ingehardloop het en aan hom verduidelik het wat aangaan.
Hy het ‘n .22-pistool in die kamer gaan haal en agter ‘n groot wit klip voor sy huis gaan staan en gesien hoe die verdagtes met die Cronjés se voertuig uit die erf ry. “Een van die mans het uitgeklim en gevloek. Hy was op pad terug na die huis en dit het vir my gelyk of hy terug wou gaan om my bure leed aan te doen,” het Brand vertel. Die mans het hom gesien en twee skote in sy rigting afgevuur.
Hy het een skoot in die lug afgevuur om die verdagtes af te skrik. Hulle het uit die voertuig gespring en op die vlug geslaan. Die Cronjés se waardevolle besittings is later in ‘n vlei naby hul kleinhoewe gevind. Brand se vrou het dadelik Bossies Community Justice, Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit en die polisie gekontak, wat spoedig op die toneel was.
Die Cronjés bly nou by vriende in die stad en wil nie weer na die huis terugkeer waar hulle nou slegs ses maande woon nie.
Brand is Dinsdagoggend gearresteer omdat hy met ‘n ongelisensieerde vuurwapen geskiet het. Daar is op die vuurwapen beslag gelê en hy het Woensdagoggend in die hof verskyn. Hy is op borg vrygelaat en die saak word weer op 8 Februarie aangehoor.
“Ek wou my medemens help en nou lyk ek soos die krimineel en die verdagtes loop op vrye voet,” het Brand vertel. Sy hond is twee dae na die voorval ook vergiftig en hy en sy gesin lewe nou in vrees.
“Die mense wat vir my op die plaas werk is bang, hulle wil nie meer hier bly nie.” Niemand is nog in verband met die voorval gearresteer nie.
