MBOMBELA – Die Laeveld loop nes die res van die land onder misdaad deur en selfs die mees gesogte landgoedere word nie ontsien nie.
Shandon Landgoed, een van die spoggerigstes in die Laeveld, het sedert die begin van November ongewone misdaadsyfers ervaar, ten spyte van tegnologies gevorderde sekuriteitsmaatreëls.
“Die vlaag misdaad het ons, en die ganse slot-en-grendelgemeenskap laat regop sit,” sê Shandon se bestuurder, mnr. Andy Haggart.
In die mees onlangse voorval, is ‘n skootrekenaar, sowel as ‘n TV tussen 00:30 en 03:00 uit een van die wooneenhede gesteel. Die inwoners was ten tye van die voorval tuis, maar onbewus daarvan dat hul besittings uit die huis gedra word. Geen verdagte is nog in verband met die voorval aangekeer nie.
“Ons kan nie sê dit is dieselfde mense wat aanhoudend inbreek nie, maar die modus operandi is byna identies,” sê mnr. Phillip de Bruin, hoof van sekuriteit by Shandon. De Bruin reken dat die verdagte ‘n kenner van die bos is, wat die ruig plantegroei tot sy voordeel gebruik.
“Daar was vantevore tekens van ‘n moontlike verdagte wat hom in die bosse skuilhou. Aan sy ontwykende bewegings het dit gelyk of hy moontlik ‘n voormalige soldaat met goeie opleiding kon wees.”
“Dit is van kardinale belang dat inwoners vir hul eie veiligheid verantwoordelikheid aanvaar. Veiligheid bly die eienaar se verantwoordelikheid. Inwoners moet self toesien dat veilgheidshekke en deure gesluit, en vensters toe is,” sê Haggart.
Beide waarsku dat geen perseel bestand is teen indringing nie, ongeag hoe streng die sekuriteit is.
“Ons doen alles in ons vermoë om misdaad te probeer bekamp, maar dit is steeds belangrik vir inwoners om self misdaad te verhoed,” sê Haggart.
Die verdagte wat aanhou om Shandon so te teister, is glo só skelm dat hy selfs die honde uitoorlê.
Inwoners word aangespoor om sekuriteit onmiddellik te ontbied wanneer hulle verdagte gedrag opmerk. Die reaksietyd na enige misdaad is beter wanneer inwoners saamwerk.
Haggart en De Bruin moedig hulle aan om uiters versigtig te wees en by die situasie aan te pas, maar ook die lig aan die einde van die tonnel te sien.
“Vir ons is een misdaad, ‘n misdaad te veel. Dit is vir ons ‘n bitter sensitiewe saak, want net so min as wat Shandon-inwoners aan misdaad gewoond is nie, só is ek ook.”
“Ons wil graag van die geleentheid gebruikmaak om alle rolspelers te bedank vir hulle hulp en ondesteuning in die huidige situasie,” sluit Haggart af.
