Hard newsNews

Vrou word beroof terwyl sy slaap

Volgens Oosthuizen het die alarm verskeie kere Sondagaand afgegaan, maar het hulle niks verdag opgemerk nie.

‘n Vrou is Sondagaand van haar waardevolle besittings ontneem; die items het van haar bedkassie verdwyn terwyl sy geslaap het. Me. Hantie Oosthuize se selfoon, skooterekenaar, tablet sowel as grimeersakkie is tydens die voorval in Koraalboomstraat gesteel.
Haar dogter, me. Yolandi Oosthuizen verduidelik een van die diewe het ‘n stok gebruik om die kamervenster oop te skuif om haar ma se besittings be te kom.
Volgens Oosthuizen het die alarm verskeie kere Sondagaand afgegaan, maar het hulle niks verdag opgemerk nie. “Ons het verskeie kere gaan kyk, maar het niks gesien nie. Toe my ma egter die volgende oggend wakker word, was haar besittings skoonveld,” het sy vertel.
Haar ma het nie eens wakker geword nie. “Ons vermoed dat hulle iets in die vertrek gespuit het om haar diep te laat slaap. Die items was naby my ma se kop. Sy sou onder normale omstandighede wakker geword het,” het Yolandi geskok vertel en gesê dat hulle ‘n groot blaar op haar ma se bedkassie gelos het “om haar te herinner” dat hulle daar was.
Sy sê dit was die tweede voorval waar kwaaddoeners by hulle deur die venster toegang probeer verkry het. “My seuntjie het ons een nag kom wakker maak en gesê dat iemand by sy venster was en ‘n tak deur die ruit gesteek het. Ons het aanvanklik gedink dit is nie waar nie, maar het die volgende dag die tak in die tuin gekry. Dit is onrusbarend dat mens se huis deesdae eintlik ‘n tronk is.”
Niemand is nog verbind met die voorval nie. Mnr. Jacques Meiring van Bossies Community Justice (BCJ) het ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om basiese sekuriteitsmaatreëls in plek te kry om vrye toegang tot huise sover moontlik te beperk. Volgens Meiring klim boosdoeners telkemaal op die dak om toegang tot die huis te verkry.
Meiring meen dis uiters belangrik om dit so moeilik as moontlik vir inbrekers te maak en gesê alarmstelsels, veral ogies, moet op strategiese plekke aangebring word. BCJ sê daar is nie ‘n beduidende toename in inbrake sederdien beurtkrag in werking getree het nie, maar hy het genoem dat hulle wel ‘n groter senuagtigheid onder inwoners opmerk. “Mense is beslis banger.” Hy sê waar die nodige veiligheidsmaatreëls in plek is, inwoners nie paniekerig hoef te raak nie.

Lees gerus ook die onderstaande artikel:

Your safety in your own hands

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button