
MBOMBELA – Vier mense is binne slegs 12 ure in drie afsonderlike motorongelukke dood.
Volgens mnr. Greg Wilcox, paramedikus van ER 24, is ‘n voetganger omstreeks 20:00 Vrydagaand dood op die N4 by Schagen toe ‘n voertuig hom getref het. Mnr. Willem Swart van Van Wettens insleepdiens het egter bevestig dat dié man besig was om fiets te ry toe hy getref is.
Saterdagoggend is nog twee mense dood en twee ernstig beseer by die Karino-aansluiting met die N4. Volgens Wilcox was hulle vasgekeer in die voertuig. “Op die stadium is dit nog moeilik om presies vas te stel wat die oorsaak was,” het Wilcox gesê.
Wilcox het ook bevestig dat die bestuurder van ‘n bakkie net na 07:00 Saterdagoggend naby Exotica kwekery by Kamagugu dood is toe die bakkie waarmee hy nog mense vervoer het, omgeslaan het.
