
MBOMBELA – Die voetspore wat deels tot die identifisering van die sogenaamde Onderberg Ninjas gelei het, is vandeesweek deur hul verdediging in die hof in twyfel getrek.
Mnre. Moses Silinda (31), Pieto Gwambe (28), Sam Chauke (37) en Venas Gavane (28) het Maandag weer in die streekshof verskyn. Hulle word met verskeie geweldadige voorvalle wat in 2011 plaasgevind het, verbind. Die klagtes teen hulle sluit drie klagtes van roof met verswarende omstandighede, menseroof, die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en die onwettige betreding en verlaat van Suid-Afrika in.
AO Ivan Swart, ‘n hondemeester en spoorkenner, het verlede week Maandag getuig hoe hy voetspore op die een toneel gelig het. Hy het aan die hand van foto’s wat op die toneel geneem is die drie verskillende skoenspore beskryf.
Daar was ‘n gedeeltelike stewel- en deelspoor of gedeelte van ‘n skoen wat soos ‘n wafel gelyk het. ‘n Derde spoor was van ‘n All Star-skoen. Hulle is glo gebruik om die verdagtes te identifiseer omdat hulle ten tyde van hul arrestasie dieselfde tipe skoene aangehad het. Die verdediging het aangedui dat hulle die manier hoe Swart die bewysstukke bekom het, betwis. Swart het getuig dat hy die spore op die toneel ondersoek het.
Verlede week het konst. Delphas Mlandzi getuig dat hy op 23 November 2011 op die toneel op drie voetspore afgekom het. Hy het dit gevolg en op drie mans wat in die bosse gestaan het, afgekom. Hulle het op die vlug geslaan.
Nog twee verdagtes wat met die voorvalle verbind word, is nog soek en skuil na vermoede in Mosambiek. Landdros mnr. André Geldenhuys het Swart gevra om die oorspronklike bewysstukke met sy volgende verskyning hof toe te bring. Die saak is tot 28 April uitgestel.
