
ROCKY DRIFT – Motoriste wat vroeg Saterdagoggend op die R40 tussen Witrivier en Mbombela gereis het, moes in die lewelose liggaam van ‘n man vaskyk wat aan ‘n aanwysingsbord gehang het. Die man (21) het vermoedelik kort nadat hy in ‘n motorongeluk was, sy eie lewe geneem.
Ooggetuies het aan Laevelder vertel dat die man tou by die Sasol-vulstasie gaan koop het en vir die petroljoggies gesê het dat hy homself daarmee gaan hang. Toe hulle dit nie aan hom wou verkoop nie, het hy gesê dat hy ‘n grap gemaak het en eintlik ‘n voertuig wou sleep. Hy het homself sowat 30 minute later om 03:00 aan die linkerkant van die hoofweg gehang. Joggies het kort daarna die liggaam opgemerk en die polisie ontbied.
Me. Antoinette Wilkinson Oosthuizen het later op Facebook opgemerk dat haar kind daardie oggend op pad na die interhoër die toneel moes aanskou. Die man is later as mnr. Sybrand Louw geïdentifiseer. Sy ouers,
mnr. Hannes en me. Jenny Louw, het die koerant gisteroggend besoek en gesê dat hy ‘n voertuig wat nie aan hom behoort het nie onder die invloed van drank bestuur het en dit gestamp het. Hulle vermoed dat hy selfdood as sy enigste uitweg beskou het. Sers. Gerald Sidebe, provinsiale polisiewoordvoerder, het by navraag gesê dat hulle ‘n geregtelike doodsondersoek geloods het.
“Ek kan bevestig dat daar ‘n ongeluk tussen ‘n Corsa-bakkie en Volkswagen Jetta was. Polisiebeamptes het een bestuurder op die toneel gekry en terwyl hulle daar doenig was, is hulle van ‘n vermoedelike selfdood ingelig,” het Sidebe gesê. Dié ongeluk word ook ondersoek.
‘n Vriend, mnr. Niel Grobler, het gesê: ”Hy het nog verlede naweek saam met my gekuier en ek het nie agtergekom dat enigiets fout was nie.” Volgens Grobler het Louw Vrydagaand saam met vriende in Mbombela gekuier. Hy het ‘n vriend in Witrivier gaan haal toe die ongeluk gebeur het.
Trish Hazel Botha het ook op Facebook geskryf: “Rus in vrede maatjie. Ons gaan jou baie mis. Ek wens jy kon met ons almal gepraat het om te sê wat fout was. Ons sou jou gehelp het. Hoop Liewe Jesus gee jou baie liefde en vir jou familie baie krag. Mis jou.”
Lees ook: Rede vir geliefde tiener se selfdood bly ‘n raaisel, Pastoor se selfdood stuur skokgolwe deur gemeenskap
