
NGODWANA – ‘n Bejaarde egpaar is Woensdagaand op hulle plaas in Houtboshoek aangeval terwyl hulle besig was om aandete te eet. Die aanvallers is met van hulle vuurwapens weg.
Mnr. Jackie Makler (83) en me. Margie Makler (72) is ongeveer 19:00 deur drie gewapende mans oorrompel wat hulle beveel het om geld aan hulle te gee. Die Makler-egpaar boer al hulle lewe lank op dié plaas en dit was die eerste keer wat hulle aangeval is. Die verdagtes het die egpaar met elektriese koorde vasgebind en in die badkamer toegesluit. Volgens kapt. Pieter Smith, het die egpaar slegs geringe beserings opgedoen.
Die verdagtes het daarna die huis omgekeer en om ongeveer 23:00 met mnr. Makler se vuurwapens wat in die kluis was, elektroniese toestelle en die egpaar se grys Nissan Xtrail op die vlug geslaan. Die Maklers het die hele aand op die koue badkamer vloer gelê en om hulp geroep.
Een van hulle werkers op die plaas het hulle eers gister om 07:00 ontdek. Die werker het dadelik onraad vermoed toe hy sien al die deure van die huis staan oop. Hy het stemme vanuit die badkamer gehoor en dadelik die Maklers gaan help. Hy is na die bure en die polisie is dadelik ontbied. As enige iemand die egpaar se grys Nissan Xtrail met registrasienommer FMT309MP opmerk, moet hul kapt. Pieter Smit by 082-448-9180 skakel.
