MBOMBELA – Die toestand van die Nelspruit Skougronde versleg by die dag. Vandaliste en koperdiewe regeer dié eens trotse stuk van die stad se geskiedenis en die veiligheidswag hier kruip liewers weg as hy hulle gewaar. Intussen is daar nog geen aanduiding van wanneer hierdie grond eendag aan die koper oorgedra gaan word nie.
“Die mense wat op hierdie plek toesak sal my doodmaak. Ek dink hulle eet mensvleis,” het die veiligheidswag Dinsdag tydens Laevelder se besoek gesê. Sy naam word om veiligheidsredes nie gepubliseer nie.
Laevelder berig sedert Februarie 2015 oor die omstandighede wat hierdie voormalige gesogte baken in ‘n hool van misdaad verander het. Dit het alles begin met die veiling van die skougrond op 28 Februarie 2015, wat byna in die wiele gery is deur pogings van Mbombela om die grond te onteien.
Toe die twee eiendomme waaruit die skougronde bestaan wel verkoop is, het die munisipaliteit geweier om dokumente nodig vir die eiendomsoordrag van een van hierdie erwe aan die nuwe eienaar beskikbaar te stel. Die munisipaliteit beweer dat die vereniging nie die magtiging moes gehad het om die grond te vervreem nie. Mnr. Johann du Preez is die Laeveldse Skouvereniging se regsverteenwoordiger. Hy het aan Laevelder gesê dat hierdie geskil deur die Noord Gauteng Hoë Hof besleg sal word. ‘n Datum is nog nie hiervoor toegeken nie.
Terwyl die regsproses stadig sy gang gaan, word die geboue voortdurend geplunder. Laevelder het in Oktober hieroor berig, kort nadat die vereniging opgehou het om
R28 000 per maand aan sekuriteitswagte te bestee. Skoudirekteur mnr. Louis Kotzé het destyds verduidelik dat dié uitgawe nie geregverdig kon word nie, aangesien die vereniging die gronde verkoop het.
Kotzé het gesê dat diewe saans slote daar gegrawe, ondergrondse kragkabels uitgehaal, oopgesny en van koper gestroop het. Die munisipaliteit het die perseel se transformator verwyder om verdere diefstal te voorkom. Deure se handvatsels en wasbakke se krane is afgesteel. Kotzé het vertel dat dit later onmoontlik geword het om na die perseel toe te jaag en elke vandalis en dief te betrap – daar was eenvoudig te veel van hulle. Die een man wat daarna aangestel is om die gronde te beman, sê dat hy nie ‘n kans sal staan op oorlewing as die boosdoeners besluit om op hom toe te sak nie.
Die gronde het vandeesweek erger gelyk as ooit tevore. Die bouvalle wat oor was, het nie meer deure of vensters gehad nie. Daar was nie meer sinkplate op die bouvalle se dakke nie en slegs hier en daar was nog ‘n dakkap of ‘n stukkie van ‘n balkon oor. Geen kragpaal het meer regop gestaan nie.
Me. Susan Fikile Mkanzi van Nghwazi TT Investments (Pty) Ltd het die grond op die veiling gekoop. Sy het Laevelder Woensdag te woord gestaan.
“Dit is nie my verantwoordelikheid om toe te sien dat dit nie gebeur nie, omdat die eiendom nog aan die Laeveld Skouvereniging behoort,” het sy gesê. Sy het ook gesê dat sy nog nie besluit het wat sy met die R28 miljoen belegging wil doen nie.
“Ons moet maar eers sien wat in die hof gebeur. Ek gaan nie nou planne maak terwyl die grond nog iemand anders s’n is nie,” het sy gesê.
Die munisipaliteit het in 2015 herhaaldelik gesê dat hul die grond in die toekoms sou onteien. Laevelder se navrae aan die munisipaliteit het onbeantwoord gebly.
Lees ook:
Munisipaliteit probeer oordrag van Skougronde keer
Sien Benno Stander se foto’s van die verval hier:





























