Hard newsNews

Woede na Marloth-man apie skiet – Video ingesluit

Die diertjie het vir ure gely voordat hy uiteindelik van kant gemaak is.

MARLOTHPARK – Die gemeenskap het hulle misnoeë uitgespreek nadat ‘n huurder in die park ‘n blouapie met ‘n windbuks geskiet het.

Die diertjie het vir ure gely voordat hy uiteindelik van kant gemaak is.

Inwoners, mnr. Hume en me. Corlia du Toit het Saterdagmiddag saam met hulle familie op die stoep gesit toe hulle drie skote gehoor het.

Kort daarna het hulle gesien hoe die apie uit die boom val, nie in staat om sy agterlyf te beweeg nie.

Hy kon homself uiteindelik na ‘n groot boom toe sleep en daar het hy lank geskuil voordat veldwagters hom uit sy ellende kon verlos.

Met hulle aankoms het die veldwagters nie ‘n wapen byderhand gehad nie, en moes hulle eers terug kantoor toe gaan om een te gaan haal. Inwoners getuig dat die apie twee uur lank moes lê en ly.

Dit is ook blykbaar nie die eerste keer dat die man op diere in die park geskiet het nie.

Die man het by navraag geweier om kommentaar te lewer.

“Ek het al opgemerk dat die apies baie bang en skrikkerig is, maar nou weet ek hoekom. Dit is omdat party mense hulle skiet en verwilder,” het een van die gereelde besoekers gesê.

Talle mense voel dat geregtigheid hier moet geskied. Kommentaar soos, “Hy hoort nie in die park nie,” het kort na die foto’s van die apie op sosiale media geplaas is, die ronde gedoen.

“Kom ek sê jou nou, ek sal daarvoor sorg dat geregtigheid geskied,” het ‘n ontstoke Facebook-leser gesê.

Van die inwoners het selfs ‘n besoek aan die man se huis afgelê, maar hulle vermoed dat hy kort na die voorval die hasepad gekies het.

“Ek vertrou dat die Marlothparkse eienaarsvereniging in 2016 hulle stempel op die park gaan afdruk en sorg dat geregtigheid in alle opsigte geskied.”

Die voorsitter en inspekteur van die Barbertonse DBV vertel dat beeldmateriaal wat aan hulle gestuur is, wys hoe dié dier in pyn verkeer en aardige geluide maak.

“Asof dit nie genoeg was dat die man die apie geskiet het nie, het hy hom gelos dat hy ly. Hy het hom gewond en net so gelos. As dit ‘n probleemdier was, moes hy nie self aksie geneem het nie, maar eerder parkeraad ontbied het,” sê Hoffman.

Sy voeg by dat die man kragtens

Artikel 71 van die Dierebeskermingswet, 1962, van dieremishandeling aangekla gaan word.

“Marloth se mense bly daar omdat hulle die dierelewe geniet. Nie om te kyk hoe ander mense op hulle teikenskiet nie.” Sy moedig ooggetuies aan om ‘n affidavit af te lê en daarna Barberton DBV te kontak.

Meer oor Marloth Park hier

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button