TSHWANE – ‘n Jongman van Mbombela is verlede week tydens ‘n gewelddadige onderonsie by die Universiteit van Pretoria gewond. Dié insident is deel van ‘n vlaag voorvalle wat universiteite regoor die land getref het.
Studente aan die Universiteit van Kaapstad het die instelling se kunswerke twee weke gelede verbrand omdat die skilderye glo die land se koloniale era versinnebeeld het. Die protesaksie het in chaos ontaard en die polisie moes ingryp.
Daar is Woensdag in die nasionale pers berig dat Kovsie-koshuisinwoners die Universiteit van die Vrystaat sak en pak verlaat het uit vrees vir geweld. Wetenskap- en administrasiesentrums op die Universiteit van Noordwes se Mafikeng-kampus is eergisteraand deur studente afgebrand.
Die Universiteit van Pretoria was vir ‘n aantal dae weens dreigende onluste op kampus gesluit. Gerrit Engelbrecht (22), wat in 2011 aan Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het, waar hy ook hoofseun was, het in die spervuur beland toe pro- en anti-Afrikaanse studente slaags geraak het. Iemand het hom glo met ‘n mop bygekom en hy is met ‘n gapende wond op sy voorkop afgeneem.
Gerrit het aan Laevelder bevestig dat hy na die voorval hospitaal toe geneem is. “Hulle het gou die bloeding gestop en steke ingesit,” het hy gesê. Hy het sy dankbaarheid uitgespreek teenoor almal wat navraag gedoen het oor sy welstand, maar wou nie ‘n onderhoud toestaan nie.
Talle Laevelders word direk en indirek deur hierdie gebeure geraak. Plaaslike ouers vrees vir hul kinders se veiligheid, terwyl studente wat hiervandaan stad toe getrek het om klas te loop, wonder wat van hul akademiese loopbane gaan word te midde van die drama. Die Universiteit van Pretoria se rektor, me. Cheryl de la Rey het Woensdag in ‘n persverklaring gesê dat die universiteit baie bekommerd was oor die feit dat die betogers se eise die effektiewe bestuur van die universiteit negatief beïnvloed.
Sommige Laevelders studeer deeltyds by van die land se universiteite. Die Universiteit van Kaapstad se woordvoerder, me. Pat Lucas, is gevra wat die effek van soortgelyke voorvalle op die gesag van ‘n instansie se kwalifikasies sal wees. Sy het gemeen dat die kwaliteit van hul kwalifikasie sal afhang van die kurrikulum, studieleiers en betrokkenheid van interne eksaminators en dat protesaksies dus nie ‘n invloed sal hê op die gesag van ‘n deeltydse kwalifikasie by die universiteit nie.
Lees meer oor protesaksies regoor die provinsie: Unrest rocks Mpumalanga
