MBOMBELA – Die voormalige staatsaanklaer in die saak teen me. Christine Otto se vermeende aanvallers, word dissiplinêr ondersoek nadat een van hulle in 2015 op borg vrygelaat is. Die Nasionale Vervolgingsgesag se mnr. Luvuyo Mfaku het dit Maandag aan Laevelder bevestig.
Otto is twee jaar gelede wreed aangeval in die Burnside-omgewing. Laevelder het in Maart 2014 berig dat Otto op die oggend van die 20ste, omstreeks 09:00, op pad na haar voertuig toe was. Sy sou na ‘n familielid se begrafnis toe ry toe drie gewapende mans haar oorval het.
Die mans het haar in die huis ingeboender en in die stort vasgemaak. Hulle het gevra vir die sleutels tot haar kluis, maar sy het gesê sy het nie een nie.
Sy is hierna wreed aangerand. Otto is in die gesig geslaan, met ‘n sambok bygedam en met ‘n warm strykyster gebrand. Sy het in 2015 aan Laevelder vertel dat sy uiteindelik toegegee het en vir hulle gesê het waar die sleutel was.
Hulle het haar in die stort vasgebind en is met onder andere wapens, juwele en haar motor – ‘n blou Kia Picanto – daar weg. Sy het ‘n saag gebruik om van die toue waarmee sy vasgebind was, los te saag.
Haar hande was egter nog vasgebind toe sy met ‘n skêrtjie wat sy tussen haar tande vasgeklem het, die paniekknoppie gedruk en Hi-Tech Sekuriteit Nelspruit ontbied het.
Drie mans is in Junie 2014 in verband met die voorval aangekeer. Mnre. Thulane Nonyama, Senzo Masekob en Lucky Msibi is daarvan aangekla dat hulle Otto aangeval het en die saak is twee keer uitgestel.
Toe Otto op 19 Oktober 2015 in die Nelspruit Streekshof aanmeld, het sy verneem dat borg aan Nonyane toegestaan is. Nie Otto of die ondersoekbeampte in die saak, sers. Krisjan Jansen van Vuuren, was van Nonyane se borgaansoek bewus nie.
Staatsaanklaer mnr. Robert Ndlovu word nou dissiplinêr ondersoek vir sy versuim om Nonyane se beoogde borgaansoek onder van Vuuren en Otto se aandag te bring. Nonyama, Masekob en Msibi sal later vandeesmaand in die Nelspruit Streekshof verskyn.
Die presiese datum waarop hul sal verskyn, is nog nie bevestig nie.
Lees ook: Bejaarde vrou aangeval – plaasaanvaller antwoord noodoproep
