Hard newsNews

Man praat oor gru-ervaring met hiëna

Hy het sy kussing gegryp en in die dier se gesig gedruk. Sy vriende het hom hoor skree en uit hulle tente gekom om te kom help

MBOMBELA – ‘n Inwoner het verlede week letterlik die dood in die oë gestaar toe hy deur ‘n woedende hiëna in Cape Vidal aangeval is.

Mnr. Pieter Theron (43) herstel wonderbaarlik nadat hy deur die dier in sy tent gegryp is. ‘n Swaard hang egter oor sy kop omdat hy vrees dat die dier dalk hondsdolheid of ‘n ander siekte onder lede kan hê. Hy ontvang tans ‘n reeks inspuitings teen dié dodelike siekte. KwaZulu-Natal se parkeraad is nog besig om die hiëna te probeer vastrek.

Theron het gister sy ervaring met Laevelder gedeel. Hy en ‘n groep vriende het op 26 Februarie na Cape Vidal vertrek om daar te gaan visvang. Hulle gaan minstens twee keer ‘n jaar soontoe.

“Jy kan ‘n kamp daar volgens jou behoefte kies. Ons wou nie gaan diere kyk nie, maar visvang. Ons het ‘n kamp gekies wat elektries omhein is en daar is gewapende wagte wat diens doen. Jy teken nie eens ‘n vrywaringsvorm by dié betrokke kamp nie,” het hy vertel.

Lees ook: Update and video: Leopard mauls tour operator in Kruger

“Ander media het oor my voorval berig en genoem dat om te kamp in Cape Vidal nie vir ‘sissies’ is nie. Dit maak my kwaad. Dit is nie asof ons in die middel van die bos gaan kamp het nie. Dit was veronderstel om veilig te wees.” Daar is borde wat waarsku teen wilde diere soos bosvarke, ape en seekoeie. Geen melding word egter van hiënas gemaak nie.

Hy en sy vriende was Dinsdag reeds 20:00 in die bed. Theron het in ‘n tweemantent op ‘n opblaasmatras geslaap. Die vensters se ritssluiers was oopgetrek omdat dit bloedig warm was, met net die muskietnette in plek.

Hy het omstreeks 02:00 wakker geskrik van “‘n byt in sy gesig”. “Ek het dadelik besef ek word gebyt en het weggeruk.” Die area was duidelik belig en Theron kon sien dit was ‘n hiëna.

Lees ook: Croc kills golfer in Kruger National Park

“Ons het vir mekaar gekyk,” het hy vertel. Die dier was verwoed en het Theron ‘n tweede keer probeer byt.
Hy het sy kussing gegryp en in die dier se gesig gedruk. Sy vriende het hom hoor skree en uit hulle tente gekom om te kom help. Hulle het die dier gejaag, maar hy het telkens omgedraai en teruggekom.

“‘n Ander kampganger het opgemerk dat hy ‘n tweede hiëna aan die agterkant van my tent sien staan het. Ek self het nie ‘n tweede hiëna gesien nie.” Theron het gapende wonde aan sy gesig gehad.

“Ek het stukke vleis bo my een oogbank uitgetrek,” het hy vertel. Een van die tande het ook sy oog geskraap, maar hy het wonderbaarlik nie permanente skade opgedoen nie. Sy vriende het met hom na die hospitaal op Empangeni gejaag. Sy wonde is deeglik ontsmet en aanvanklik oopgelos. Hy is twee dae later na die teater waartydens die wonde wéér skoongemaak en dr. Kalyan Rakesh Shashikant dit tydens ‘n vier uur lange prosedure geheg het.

Hy het toe reeds sy eerste inspuiting teen hondsdolheid en klem-in-die-kaak gekry. Mnr. Dirk Rossouw van Cape Vidal het hom later meegedeel dat hulle twee weke vantevore ingelig is dat daar twee hiënas in die omgewing is.

“Toe ander kampgangers gehoor het van my aanval, het hulle genoem dat iemand anders vroeër dieselfde aand deur ‘n hiëna uit sy tent gesleep is. Hy was gelukkig in sy slaapsak en het slegs skraapwonde opgedoen. Hy word ook teen hondsdolheid behandel. Hulle moes ons na die eerste voorval al gewaarsku het. Ek sou dan in my bakkie gaan slaap het,” het Theron gesê.

Hy het bygevoeg dat parkeraad hom en sy gesin na die voorval gratis in ‘n chalet by Cape Vidal gehuisves het. Hy wag egter in spanning dat die hiënas vasgetrek word. “Hulle sê dat hy in alle waarskynlikheid nie hondsdolheid het nie omdat hy teen dié tyd al dood sou gewees het. Iets moét fout wees met die dier. Dit is nie normale gedrag nie.”

Hy is net dankbaar dat hy nie seerder gekry het nie en só goed besig is om te herstel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button