
MBOMBELA – Francois Coetzee, die 12-jarige seun van Laerskool Laeveld wat vroeër vanjaar ‘n beroerte gehad het, sterk goed aan. Hy kan al selfs weer skool toe gaan. Seun se beroerte skok ouers
“Dit gaan baie goed met hom. Hy is baie positief en sy gesondheid is goed, behalwe vir die letsels wat die beroerte nagelaat het waaraan ons nog werk. Hy het geringe spierbeheer en swakheid aan sy regterkant en sy spraak- en taalvermoë is aangetas,” sê sy pa, Morné.
Francois het na ‘n warm dag se atletiek by ‘n vriend se partytjie ineengestort. “Drome wat ons vir ons kind gehad het, sal heel moontlik nooit bewaarheid word nie, omdat die gevare daaraan verbonde net te groot is – Francois droom daarvan om ‘n professionele rugbyspeler te word,” sê Mornê.
“Ons is egter baie dankbaar dat ons nog ‘n kind het, dat hy steeds normaal kan funksioneer ten spyte van sy toestand en dat hy so posifief is daaroor. Maar, dit bly fisies en emosioneel uitputtend. Dit is moeilik om vrede daarmee te maak, maar dis ‘n pad wat ‘n mens loop en ons sal daar uitkom. Ons werk aan nuwe, wesenlike drome en met tyd sal hy saam met ons droom,” sê sy pa.
Francois kry steeds twee tot drie maal ‘n week spraak-, arbeids- en fisioterapie. Te danke aan ‘n skenking van Jacaranda FM se Good Morning Angels, ontvang hy ook nou bloedplaatjie- en stamselbehandeling.
“Nie almal glo in hierdie behandeling nie, en ek glo dat dit nie vir almal werk nie, maar die skielike verbetering wat Francois die laaste week of twee toon, wys vir my dat my God tog op hierdie manier tot wonderwerke in staat is. Ek het van die begin af geglo dat Francois 99 persent sal herstel, en ek glo dat hierdie behandeling die proses bespoedig,” vertel sy pa.
Net soos na die voorval, is sy ondersteunings-netwerk steeds sterk. “Toe dit gebeur het, was dit ‘n ongelooflike skok vir almal en almal was fisies die hele tyd teenwoordig – mense het die hele tyd kom kuier en boodskappe gestuur. Elkeen het egter sy of haar eie lewe om mee aan te gaan, maar die ondervinding het sulke hegte bande gesmee dat ons enige tyd op enigeen se knoppie kan druk en weet dat hulle daar sal wees. Ons kry ook steeds gereelde boodskappe van vreemdelinge en kennisse dat mense vir hom bid. Ons waardeer dit vreeslik baie,” voeg hy by.
Hoewel Francois al terug is by die skool, sukkel hy effe om by te bly in die klas, maar geniet dit om weer deel te wees van die groep en geniet veral pouses en wiskunde. “Sy wiskunde is steeds bogemiddeld goed. Hy gaan egter net meeste van die tyd tot 10:00 skool, omdat hy steeds baie rus moet kry en drie maal ‘n week om 10:00 by terapie moet wees, maar soms vra hy om langer te bly om sy wiskundeklas by te woon,” vertel Morné.
Hoewel hy nie aan enige kontaksport kan deelneem nie, oefen hy steeds saam met sy rugbyspan aan sy fiksheid. Hy gaan egter voort met atletiek indien sy regterarm sodoende versterk om hom in die kompetisie te hou.
“Ons gaan binnekort in die gimnasium begin oefen om daaraan te werk. Hy gaan ook begin met swemlesse en hoop heimlik dat sy fokus hiernatoe sal skuif sodra die rugbyseisoen verby is.”
As prefek het hy onlangs as deel van sy verpligtinge saam met die groep by die bejaardes van Herfsakker gaan kuier en saam met die tannies gedans. “Hy het dit vreeslik geniet! Hulle het ook lekker saam met St John’s se kinders gespeel en vir hulle kos en ander noodsaaklikhede gevat. Hy floreer weer in sy eie omgewing,” sluit sy pa af.
