
MBOMBELA – Dit blyk of die gewilde sangsensasie, Bobby van Jaarsveld, wel betyds vir sy optrede tydens die Innibos Jacaranda 94.7 konsert sal wees wat Saterdag plaasvind.
Groot onsekerheid het vanoggend geheers nadat dit aan die lig gekom het dat Bobby moontlik nie betyds na Suid-Afrika sou kon terug vlieg nie nadat hy en sy pa opgehou is op ‘n lughawe in Turkye.
Dit volg nadat meer as 30 mense Dinsdagaand dood is toe drie selfmoordbomaanvallers op Istanbul se Ataturk-lughawe toegeslaan het.
Volgens mediaberigte sou Bobby en sy pa van dié lughawe terugvlieg na Suid-Afrika na ‘n toer deur Israel.
Laevelder het Woensdagoggend met Bobby se ma, Me Ronel Brink, ook sy bestuurder, gepraat wat dié opondhoud bevestig het.
Sy het egter verseker dat Bobby wel betyds sal wees vir sy optrede Saterdag en dat daar nie rede vir kommer is nie.
“Hul vlugte was bloot met ‘n paar uur opgehou weens die aanval, maar is nou weer op skedule. Hulle sal vanaand vanaf Turkye vertrek.”
“Ons is net dankbaar dat hulle veilig is. Hulle het dit met een dag gemis,” het sy verlig gesê.
