
MBOMBELA – Inwoners van die spog- gholflandgoed, Matumi is geskok nadat ‘n vrou Donderdagaand in hegtenis geneem is nadat sy na bewering haar minnaar met ‘n mes in die nek gesteek het.
Me. Mariette Maree, ‘n haarkapper by The Perfect Cut het mnr. Dawie van Deventer na bewering in dié voorval van huismoles teen ongeveer 23:30 gesteek.
Maree is ‘n inwoner van die landgoed. Sy is nie onbekend in die Laeveld nie. ‘n Paar maande gelede het Laevelder oor dié rooikop berig toe sy in spitsverkeer puntsman gespeel het by die El Madré-kruising toe die verkeersligte buite werking was.
Sy het Vrydag op ‘n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer in die hof verskyn. Sy is borgtog van R1 500 toegestaan.
Laevelder het Maandag met Van Deventer oor die foon gesels en hy het gesê dit gaan sleg met hom. “My nekspier, hoofslagaar en lugpyp is raakgesny.”
Hy sou na verwagting Maandagmiddag of Dinsdagoggend uit Mediclinic Nelspruit ontslaan word. Hy wou geen verdere kommentaar lewer totdat hy met sy prokureur gepraat het nie.
Maree het die koerant na haar prokureur, mnr. Pietman Lourens verwys. Hy het die voorval bevestig en gesê dat sy kliënt Vrydag ‘n beskermingsbevel teen Van Deventer bekom het. Hulle sou gister klagtes van aanranding teen hom lê.
