MBOMBELA – ‘n Jong vrou, vermoedelik in haar laat 20’s, het gisteraand tydens Innibos se Jacaranda 94.2 konsert inmekaargesak. Sy is na die staatshospitaal gehaas.
Dit het om 19:40 gisteraand gebeur. ‘n Ooggetuie het sy weergawe van gebeure aan Laevelder voorgehou:
“Sy het tussen die Castle biertent en die Standard Bank OTM by ‘n groep vriende gestaan. Hulle het na die vertoning gekyk toe sy skielik platgeval het. ‘n Vrou in die omtrek het by haar gekniel om te hoor of sy nog asemhaal.”
‘n Aantal beamptes wat met Innibos se sekuriteit bemoeid was, het hul na die toneel gehaas. Die vrou se vriende het glo opgemerk dat sy gekla het oor “hartkloppings” en “‘n pyn op die bors.”
Die vrou het, volgens die ooggetuie, nie gelyk asof sy baie alkohol gedrink het nie.
“Die sekuriteit het haar op ‘n gholfkarretjie gelaai. Hulle het haar na die ambulans toe geneem, wat haar hospitaal toe sou vervoer.”
Mpumalanga Emergency Medical Services (EMS) het haar na Rob Ferreira hospitaal toe geneem.
Laevelder ondersoek die voorval. ‘n Opvolgberig sal verdere inligting verskaf.
