Hard newsNews

Weermagman ernstig beseer in botsing

Daar is besluit dat die offisier te ersntig beseer is om oorgeplaas te word na 1 Militêre Hospitaal.

MBOMBELA – ‘n Adjudant-offisier in die weermag is laat Donderdagmiddag ernstig beseer in ‘n ongeluk in die stad. Die voorval het kort na 17:00 op die hoek van Samora Machellrylaan en Kaapsehoopweg plaasgevind. Dit het verkeer na Innibos hewig vertraag.

Wrakstukke van beide die wit Toyora Tazz waarin die 54-jarige offisier gery het, asook die BMW waarteen dit gebots het, het oor die pad gesaai gelê. Die noordwestelike baan van Samora Machelrylaan was gesluit en verkeer het erg opgehoop met bykomende motoriste wat op pad was na die feesterrein by Hoërskool Bergvlam.

‘n Polisiebeampte het op die toneel opgemerk dat dit moeilik was om te bepaal uit watter rigtings die twee voertuie gekom het ten tye van die botsing.

‘n Ooggetuie wat verkies het om anoniem te bly het vir Laevelder gesê hy het reg agter die Tazz gery. Hulle was op pad vanaf I’langa Mall se rigting. Hulle wou by die verkeerslig regs draai in die rigting van Kaapsehoop. Dit was groen vir aankomende verkeer, en die Tazz het stadig vorentoe begin kruip.

Die aankomende voertuie wat ook regs wou draai het hulle sig ‘n bietjie versper. Volgens die getuie het die Tazz begin vorentoe ry toe die lig oranje word. Die aankomende BMW met ‘n Mpumalanga-registrasienommer het teen ‘n hoë spoed in die middelste baan oor die verkeerslig gery.

“Die Tazz het gery soos hy moet. Die BMW het oor ‘n ten minste oranje, dalk rooi lig gery,” het hy gesê.

Hy het bygevoeg dat die BMW baie vinnig gery het. Die bestuurder het na links probeer uitswaai, maar het die Tazz links voor getref. Volgens die ooggetuie het die BMW twee keer getol en die verkeerslig op die klein eilandjie van die glybaan waar motoriste links kan draai na I’langa, getref. Die voertuig het tot stilstand gekom daarop met sy neus wat in Kaapsehoop se rigting gewys het.

Die Tazz het sowat 20 meter van die kruising in die regterkantste baan van Samora Machel tot stilstand gekom en in die rigting van I’langa Mall gewys. Die verkeerslig het in die pad omgeval.

Volgens plaaslike polisiewoordvoerder kapt. Dawie Pretorius was beide bestuurders alleen in die onderskeie voertuie. Albei is per ambulans na Mediclinic Nelspruit vervoer.

Die vrou wat die BMW bestuur het is nie ernstig beseer nie. Die offisier is slegs geïdentifiseer as AO-1 GL Nelwalani. Hy is by die weermagsondersteuningsbasis in Mbombela gestationeer en het ‘n ernstige hoofbesering opgedoen. Hy is op die toneel geïntubeer om geventileer te word.

Sy bevelvoerder, lt kol. Coen van Heerden, het gesê daar is besluit dat Nelwalani te ersntig beseer is om oorgeplaas te word na 1 Militêre Hospitaal.

Hy was teen druktyd steeds in Mediclinic Nelspruit se intensiewesorg-eenheid. Die polisie ondersoek intussen ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur.

Die verkeerslig was die volgende dag steeds buite werking en verkeer het telkens gebottelnek in die rigting van en na I’langa Mall.

Verkeersbeamptes van Mbombela het, soos wat hulle nie nodig was naby die feesterrein nie, verkeer gereguleer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button