
MBOMBELA – “Ons weet Rob Ferreira hospitaal staan bekend as ‘Vrek Ferreira’, maar ons het nog nooit sulke goeie diens ontvang nie,” het mnr. John Visagie vertel nadat sy been by dié hospitaal geamputeer is.
Voor die amputasie was hy ‘n motor-werktuigkundige en is tans bedlêend totdat sy prostese beskikbaar is.
Hy vertel dat die hele span, van dokters tot verpleegpersoneel – regdeur tot by die suster – hom van die dag wat sy broer Rudi (Vleis) Visagie hom hospitaal toe geneem het totdat hy ontslaan is, soos goud behandel het.
Visagie het onlangs sy been verloor nadat hy gangreen weens diabetes ontwikkel het en sê dat hy te danke aan die span by Rob Ferreira, positief bly.

“Hulle was van die begin af reguit met my, en het vir my vertel dat daar geen ander opsie was as om te amputeer nie. Hulle het dit vir my makliker gemaak om dit te aanvaar.”
Hy vertel dat hy en sy vriendin me. Esther Coetzer dit nodig ag om die hospitaal te bedank, “want lede van die publiek, veral in Suid-Afrika, is geneig om die negatiewe in alles raak te sien, en is nie lief vir komplimente gee nie. Dankie vir julle harde werk en kundigheid. “Almal kraak die hospitaal af, maar besef nie hoe hard julle werk met dít wat tot julle beskikking is nie.
Dit is nie die personeel se skuld as daar soms nie beddens, personeel en toerusting beskikbaar is nie. Ek haal my hoed af vir julle!”
Hy vertel dat daar altyd iemand was as hy hulle nodig gehad het. “Die feit dat die personeel moeg en oorwerk is, is nie te bewtyfel, maar hulle doen steeds alles met
‘n smile.”
Visagie is in 2013 in ‘n kaping deur die maag geskiet, en is op die einste voet wat ‘n week gelede afgesit is, geskop. Sy tande is ook tydens die voorval uitgeskop. Hy glo dat die besering wat hy hier aan sy voet opgedoen het, die infeksie vererger het wat die amputasie tot gevolg gehad het.
Hy sou onlangs ‘n maagoperasie by Baragwanath Hospitaal ondergaan het, maar weens die gangreen en probleme met sy niere, kon hy nie. Hy het besluit dat sodra hy weer op die been is, hy nie Baragwanath toe sal reis nie, maar weer by Rob Ferriera sal aanklop vir dié operasie.
Hy vertel dat te danke aan Rob Ferreira en die genade van die Here, sy lewe gespaar is.
Rob Ferreira Hospital a sinking ship
Vir meer nuus oor Rob Ferreira, kliek hier
