MBOMBELA – Indien daar nie onmiddellik met intensiewe berading ingegryp word nie, kan die 18-jarige matriekleerling wat ‘n kat en hoender geskiet het, met dieremishandeling aanhou.
Só waarsku prof. Christiaan Bezuidenhout, verbonde aan die Universiteit van Pretoria se kriminologie-afdeling. Laevelder het Dinsdag berig oor Chrisjan Terblanche wat ‘n gemmerkat met ‘n windbuks doodgeskiet het. Hy en ‘n vriend, WJ Halliday, het met die windbuks en ‘n jagmes by die dooie dier geposeer vir ‘n foto wat op Facebook gelaai is, ondermeer met die hutsmerke, #jag #lekerdieslife #pussyhunting #goedae en #hunterhunted.
Lesers was woedend en het met afgryse hierop gereageer. Kort hierna het ‘n video van Terblanche wat ‘n hoender met ‘n harpoen skiet, ook opgeduik. Hy het dit in Januarie op Instagram gelaai.
Interessant genoeg het Bezuidenhout genoem dat ‘n deel van die blaam juis voor sosiale media se deur gegooi kan word. “Deur met dié dade op sosiale media te spog, verkry die boosdoeners ‘n mate van oppervlakkige sterstatus. Dit trek hulle vriende se aandag. Die vriende sal mekaar ook soms uitdaag en kyk of hulle dié dade verder kan voer. Dit begin by ‘n duif, dan ‘n kat en later selfs ‘n blouaap,” het hy gesê. “Daar is ook ‘n mate van genot betrokke.”
Lees ook: Video: horrific footage of man abusing a goat
Bezuidenhout het verduidelik dat dit belangrik is om die graad en frekwensie van die mishandeling in ag te neem. “Dis normaal vir ‘n kind van drie jaar oud om ‘n kat aan die stert of ‘n hond aan die oor te trek. Hulle besef nie die diere kry seer nie.”
Hy het verwys na ‘n tiener wat brandstof oor honde uitgegooi en hulle aan die brand gesteek het. “Dit was ernstige mishandeling wat gereeld voorgekom het. Hierdie tiener se pa het hom mishandel en hy het intern ‘n haat teenoor die pa gekoester. Hy het ekstern beheer hieroor probeer kry deur diere te mishandel.”
Mans wat vroue of kinders mishandel, mishandel dikwels ook diere en kinders boots dan hierdie gedrag na, aldus Bezuidenhout. “Dit kan ‘n lewensfase wees. Dit kan wees dat die kind huislike probleme het en fisies of seksueel mishandel word.”
Terblanche se ouderdom is egter vir Bezuidenhout kommerwekkend. “Die kanse dat hy gaan aanhou met hierdie gedrag, is groot as daar nie ingegryp word nie.”
Bezuidenhout het vervolg: “Baie van ons geweldsmisdadigers het wel diere mishandel. Daar is beslis ‘n verband. Dieremishandeling is in baie gevalle ‘n voorloper van ‘n gedragsversteuring wat reeds teenwoordig is of besig is om te vorm.”
