Hard newsNews

Veldgids dood na polisie hom skiet

"Die polisie het my gekaap." - Het hy kort voor sy dood, aan sy broer gestuur.

BARBERTON – In ‘n man in sy veertigs is Sondag onder raaiselagtige omstandighede dood toe hy deur die polisie geskiet is. Mnr. Johan Leibbrandt, ‘n voormalige toergids, is op die toneel dood nadat hy in ‘n worsteling met ‘n polisiebeampte betrokke was.

Die verskeie weergawes van wat werklik daardie dag gebeur het, maak dit moeilik om agter die kap van die byl te kom. Leibbrandt se ma, wat saam met hom tydens die voorval was, ly glo aan Alzheimer se siekte en kan glad nie onthou wat gebeur het nie. Sy pa is verlede jaar oorlede en hy het na sy ma in Pretoria omgesien. Hulle het die afgelope naweek by vriende in Barberton gekuier.

Volgens die polisie se brig. Selvy Mohlala, provinsiale woordvoerder het drie beamptes, ‘n vrou en twee mans, op ‘n klag van inbraak gereageer. Dié voorval het glo by die vriende se huis, waar die oorledene gekuier het, plaasgevind. Leibbrandt en sy ma, is volgens Mohlala, glo langs die pad deur die beamptes opgemerk, vermoedelik om die inbraak aan te meld, en die polisie het aangebied om hulle stasies toe te neem. Dis hiér waar Leybbrandt glo geweier het dat hy en sy ma agter in die vangwa vervoer word. “Die twee beamptes wat voor in die kajuit gesit het, het toe agter ingeklim om vir hulle plek te maak,” het Mohlala gesê.

By die polisiestasie het Leibbrandt glo die bestuurder van die vangwa aangerand, haar vuurwapen probeer afneem en ‘n skoot het afgegaan. Leibbrandt is noodlottig gewond.

Mohlala kon nie aan Laevelder verduidelik hoekom hulle Leibbrandt en sy ma opgelaai het en wat die rede was dat dié twee langs die pad gestaan het nie.

‘n Familievriendin wat self antwoorde probeer kry, het aan Laevelder gesê dat Leibbrandt kort voor sy dood ‘n boodskap uit die vangwa gestuur het wat gelui het: “Die polisie het my gekaap.” Volgens die familie het die beamptes glo vir Leibbrandt en sy ma in die vangwa probeer indwing, waarna ‘n stoeiery ontstaan het.

‘n Bekende inwoner van Barberton sê ‘n ander weergawe van gebeure word in die dorp vertel. Dit lui dat Leibbrandt se ma “weggeloop” het, iets wat Alzheimer-pasiënte gereeld doen. Hy het haar glo opgespoor en haar hardhandig na die huis probeer terugneem. Die polisie is in kennis gestel en het hom glo probeer arresteer. Hy het aggressief geraak en ‘n skoot is deur een van die beamptes afgevuur.

Die polisie ondersoek die saak.

Man skiet aanvaller dood na sy terugkeer vanaf Innibos
Seuns jammer nadat hulle kat skiet

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button