BELFAST – Dis ‘n maand nadat die foto van ‘n aangerande, bebloede jongman wat besig was om te sterf, aanlyn opskudding veroorsaak het, maar geen verdagtes is nog geïdentifiseer nie.
Die 24-jarige mnr. Pierre de Necker het op 9 Julie gesterf. Sy pa, mnr. Lion de Necker het sy dood nie net by die Belfast-polisiestasie nie, maar ook aanlyn aangemeld. Die foto van sy sterwende seun is saam met die volgende byskrif geplaas: “Hierdie plasing het moed geverg. Dis ‘n foto wat een van die moordenaars van my pragtige seun, Pierre geneem het nadat hy deur ‘n groep van 12, wat soos barbare opgetree het, vermorsel is.”

Hy het Facebook-lesers versoek om die foto te deel.
Censorbugbear, ‘n Facebook-groep, het die foto gedeel en ongekende reaksie het gevolg. Die plasing is teen Dinsdag reeds deur 235 896 Facebook-lesers gesien. Baie het in reaksie op die plasing gewonder oor die status van die moordsaak wat na De Necker se dood geopen is.
Geen verdagtes is nog volgens provinsiale woordvoerder sers. Gerald Sedibe in die saak geïdentifiseer nie. “Verklarings is van verskeie getuies in verband met die voorval bekom,” het hy gesê. Hy het bygevoeg die nadoodse verslag wat na De Necker se dood versoek is, nog nie aan die polisie verskaf is nie. “Hierdie goed neem onder normale omstandighede tot en met ‘n maand,” het hy gesê.
Gesinslede van De Necker wat nie hul name genoem wil he nie, het gesê dat die polisieondersoek te traag verloop. Gerugte dat die De Neckers self ‘n moordsaak ondersoek, is ontken.
Die aanloop van gebeure wat De Necker se dood voorafgegaan het, word nog ondersoek. Sedibe het bevestig dat hy op die aand van sy dood deur gemeenskapslede daarvan verdink is dat hy ‘n wit Volkswagen Golf gesteel het.
Laevelder is vroeër deur De Necker se pa ingelig dat sy seun en ‘n vriend daardie noodlottige Vrydag om 20:30 vulstasie toe is in ‘n wit Volkswagen Golf. Die twee is glo van daar af agternagesit.
Hulle is glo in ‘n doodloopstraat vasgekeer. Pierre se vriend kon, volgens De Necker sr. daarin slag om te ontsnap, maar Pierre is aangerand. Alhoewel De Necker sr. nie self op die toneel was nie, het ‘n gemeenskapslid hom van die aanval ingelig. Hy het ook ‘n foto van sy aangerande seun ontvang.
Alhoewel daar ‘n vuurwapen langs Pierre op die foto lê, het sy pa ontken dat sy seun ‘n vuurwapen besit het.
Vriende en familie van Pierre het gesê dat hulle, ondanks hul ontevredenheid, steeds hul vertroue in die polisie plaas. “Ons glo dat die ondersoek tot iets sal lei, want ons wil weer in die regstelsel glo,” het ‘n verteenwoordiger aan Laevelder gesê.
Daar is kort na die voorval berig dat vier verdagtes in die hof sou verskyn. Sedibe het egter gesê dat dit nie die geval was nie. “Die vier is bloot ondervra as deel van die ondersoek,” het hy gesê.
Sedibe het lede van die publiek met relevante inligting tot die voorval, versoek om met hom in verbinding te tree. “Ons ondersoek steeds die saak,” het hy bevestig.
Navrae: Sers. Gerald Sedibe by 082-565-7131.
