MBOMBELA – Die Onderberg Ninjas wat hul slagoffers gemartel en met samoerai-swaarde geterroriseer het, is na ‘n vyf jaar lange verhoor in die Nelspruit Streekshof op ‘n rits klagtes skuldig bevind. Vonnisverrigtinge in die saak hervat vandag. Die landdros, mnr. André Geldenhuys, het die getuienis teen hulle breedvoerig opgesom.
Drie van die vier Mosambiekse burgers, Moses Silinda (33), Sam Chauke (39) en Venas Gavane (30), het op 5 November 2011 vir die eerste keer toegeslaan. Hul slagoffer was mnr. Micheal Zenzele Mahlalela, ‘n tuinier op die werf van sy werknemers, me. Christina Henrington en mnr. Richard Coetzee in die Komatipoort-omgewing.
Die twee was nie tuis nie en hy is as beskermer van die eiendom op die werf beroof van hul samoerai-swaarde.
Drie mans het hom met ‘n vuurwapen gedreig en die swaarde by hom afgeneem. Die rowers het Mahlalela ontvoer en is met hom en die swaarde na die buurman, mnr. JR Mulder, se eiendom toe.
Daar is Mahlalela “geskop en geklap en met die dood gedreig,” aldus sy getuienis. Hy is agter sy nek geslaan en het geval en sy bewussyn verloor.
“Net voor ek my bewussyn verloor het, het ek gesien hoe die rowers elektroniese goedere wegdra,” het hy getuig. Hy is vandag deels doof as gevolg van die voorval.
Die boosdoeners, ‘n groep Mosambiekers wat onwettig in die land was, is terug oor die grens. Van die goedere is daar in hulle besit gevind en hulle is in Mosambiek gearresteer. Terwyl hulle daar in aanhouding was, is die Komatipoort-polisie van hul arrestasie ingelig.
Die Onderbergse polisie het foto’s van die beskuldigdes bekom. AO Ettienne Hietge het in Februarie getuig dat die foto’s in ‘n uitkenningsparade gebruik is en die ninjas glo deur ‘n slagoffer geëien is. Dieselfde foto’s is destyds aan Laevelder verskaf en die gemeenskap is gewaarsku om op die uitkyk te wees vir die sogenaamde “Onderberg Ninjas”. Die mans is egter vrygelaat nadat hulle ‘n boete van R400 betaal het.
Op 23 November is die bejaarde Strydom-egpaar, mnr. Gabriel Petrus en me. Beatrix Strydom, in Masgobe, Hectorspruit beroof. Mnr. Strydom het getuig dat hy by sy bakkie doenig was toe hy iemand agter hom hoor hardloop het. Hy het omgedraai en is deur drie mans oorval.
Een was met ‘n samoerai-swaard gewapen en die ander het ‘n rewolwer by hom gehad. Strydom is met die swaard op sy kop gekap, vasgebind en moes op sy maag lê met sy gesig na die grond gedraai.
“Ek is geskop en aangesê om stil te bly,” het hy getuig. Hy is in die huis gesleep waar die rowers op sy vrou, Beatrix, afgekom het. Daar moes hy en sy in die eetkamer stilsit. Beide is met ‘n piksteel en die agterkant van die swaard geslaan.
“‘n Plastieksak is om me. Strydom, wat aan Parkinsons ly, se kop gedraai en aan die agterkant toegehou. Dit is drie keer op- en afgehaal,” het Geldenhuys Donderdag herroep. Die rowers het die Strydoms se huis van elektroniese ware, juwele en ander goedere beroof voor hulle op die vlug geslaan het.
Die Strydoms kon hulself loswikkel en het hulp per tweerigting radio ontbied. Strydom het getuig dat hy na die voorval op ‘n samoerai-swaard agter sy wasmasjien afgekom het.
Betrokkenes het na hierdie voorval tyding gekry dat drie van die ninjas tussen Coopersdal en Strydomblok geskuil het.
“Ons het met ons voertuie gereageer en met behulp van tweerigtingradio’s gekommunikeer. Die SAPD, verskeie sekuritreitsmaatskappye en ‘n helikopter van die Suid-Afrikaanse Weermag is ontplooi om vanuit die lug na die vier te soek,” het mnr. Abraham Jacobus Smit in 2015 oor die soektog getuig.
“Een passasier uit elke voertuig het te voet deel gevorm van ‘n soeklyn. Daar was 40 van ons wat vyf meter van mekaar af in ‘n horisontale ry die area deursoek het.” Drie van die ninjas wat in die dig begroeide gebied geskuil het, is een vir een uitgesnuffel.
Twee het hulle in die middel van die soeklyn vasgeloop. ‘n Derde verdagte is kort daarna deur die soeklyn opgespoor. Die drie is in hegtenis geneem en het kort daarna saam met ‘n vierde man, wat reeds op grond van immigrasie-oortredings gearresteer is, in die hof verskyn.
Silinda, Pieto Gwambe (29), Chauke en Gavane is van Mahlalela se ontvoering en die rooftogte by die Henrington-, Mulder- en Strydom-huishoudings aangekla. Al vier het skuldig gepleit op ‘n klag van onwettige immigrasie.
Slegs Silinda, Chauke en Gavane is skuldig bevind aan die rooftogte by die Henrington- en Mulder-wonings en die menseroof op Mahlalela. Gwambe is skuldig bevind op ‘n mindere klag van diefstal.
Gwambe, Chauke en Gavane is skuldig bevind aan die misdrywe met betrekking tot die Strydoms – die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie en roof met verswarende omstandighede.
Silinda was reeds in aanhouding ten tye van die pleeg van hierdie misdrywe.
Lees ook: Onderberg mourns crash victims
Lees ook: “Polisievrou” op heterdaad betrap
