Hard news

‘Help! Ek kry nie asem nie’ – man sterf kort ná stemboodskap

Onbeantwoorde vrae ná man in Rob Ferreira vermoedelik van vog in longe versmoor

Help! Ek kry nie asem nie. Niemand wil help nie!

Dit was die desperate hulpkreet wat ’n 67-jarige man in ’n roggelende stemnota aan sy suster gestuur het, waarin hy pleit vir hulp.

Kort daarna is Nicholas ‘Nico’ Jacobus Volbrecht in Rob Ferreira Hospitaal oorlede nadat hy vermoedelik in sy eie longvog versmoor het. In die agtergrond van die boodskap kan ’n pasiënt in dieselfde saal gehoor word wat na die verpleegsuster roep om hulp te kry.

LEES OOK: Verwaarlosing moontlik die oorsaak van Rob Ferreira-pasiënt se dood

Die hospitaalbeddens is nie met noodknoppies toegerus wat pasiënte in staat stel om die aandag van die verpleegpersoneel te trek nie.

Volbrecht is op 9 Junie in die hospitaal opgeneem nadat hy by sy huis op die Barberton-pad, waar hy en sy broer Arthur woon, geval en sy regterbobeen gebreek het.

Sedertdien het hy in die hospitaal gelê en gewag dat daar aan sy been geopereer moes word.

LEES OOK: Three families claim Rob Ferreira Hospital is filthy and in disrepair

“Nico sou aanvanklik na Steve Biko oorgeplaas word om die plaat en skroewe vir die nuwe prostese te laat plaas,” sê Marie Schordilies, Volbrecht se suster.

“Daar is egter besluit dat die operasie wel by Rob Ferreira gedoen kan word, maar nou moes daar gewag word vir toestemming van die Mpumalanga Departement van Gesondheid om die nuwe prostese te koop.”

Volbrecht se gesondheid het op 25 Junie skielik agteruit begin gaan en hy het onder meer erge maagpyne en diarree ontwikkel.

LEES OOK: Mbombela’s Rob Ferreira hospital lets patients down again

“Sy maag het begin swel en hy het voortdurend van erge sooibrand gekla. Die dokters het vermoed dat hy moontlik ’n maagseer ontwikkel het,” sê Schordilies.

“Toe ek Woensdag [2 Julie] omstreeks 08:00 wakker word, het ek gesien dat hy reeds die oggend omstreeks 02:50 ’n stemboodskap vir my gestuur het waarin hy kla hy kry nie asem nie.”

LEES OOK: Baba Liam sterf in Rob Ferreira

Schordilies het die hospitaal gekontak om navraag oor sy toestand te doen, maar moes toe met ’n skok uitvind dat hy kort na 04:30 oorlede is. Volgens haar dui die doodsertifikaat daarop dat hy aan aspirasie-longonsteking dood is.

“Omdat hy plat op die bed gelê het en nie regop kon kom nie toe hy op ’n stadium erg naar was, het daar vog in sy longe gekom en hy het versmoor.

“As daar ’n noodknoppie byderhand was, kon hy dalk nog geleef het.”

Sy is ook ontsteld omdat hulle haar nie gekontak het om te sê hy is oorlede nie. “Ek het nogal vir die suster my kontaknommer gegee.”

Hulle het eers later uitgevind dat die betrokke suster die papiertjie met die telefoonnommer in haar sak gedruk het en daarna huis toe is.

Die vrae wat aan Dumisani Malamele, woordvoerder van die gesondheidsdepartement, gestuur is, was teen druktyd nog onbeantwoord.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button