Gesin lê klag van bedrog ná ‘kokkerot-grot’-gastehuis in Marloth Park
'n Huis in Spinnekopstraat in Marloth Park het 'n gesin se Desembervakansie erg versuur.
“‘n Kokkerot-grot!” Só beskryf Elbie Lohmann van Hendrina hul Desember-vakansieverblyf in Marloth Park.
Net 30 minute voor hul aankoms op Ou Kersdag het die verhuringsagent, Hester Geyser, nog bevestig dat die gastehuis in Spinnekopstraat ‘gereed’ is.
LEES OOK: Holiday hell | Alleged Marloth Park accommodation swindler’s scam exposed
‘n Kwartier later het sy egter laat weet dat die huis skielik nie beskikbaar was nie, omdat dit glo vuil was en dat sy hulle tydelik elders sou huisves.

Lohmann, wat reeds in Mei 2025 bespreek en die volle bedrag van R11 800 betaal het, sê hulle het self gaan kyk.
‘Die plek was sif’
“Die plek was werklik sif – dit het gestink, rommel het orals gelê, die stoof en lugversorger was stukkend, die wasmasjien poegaai en lewendige bedrading het uit die plafon gehang.

“Buite was die braai ‘n wrak en die swembad ‘n groen vrot massa,” vertel sy.
Volgens haar het die huis glad nie soos die foto’s gelyk wat Geyser vroeër gestuur het nie. Pogings om Geyser te bel was tevergeefs.

Lohmann sê sy is reeds in 2025 gewaarsku om versigtig te wees, maar Geyser het dit as ‘liegstories’ afgemaak en nuwe foto’s gestuur.
LEES OOK: Marloth Park: Overstocking crisis as animal numbers rise
“Teen my beterwete het ek haar die voordeel van die twyfel gegee,” sê sy.
Alternatiewe akkommodasie
Op Ou Kersdag het die gesin kortliks in die alternatiewe huis ingetrek, maar gou besluit om terug te skuif na Spinnekopstraat toe.

“Ons was nie bereid om die R11 000 te verloor nie,” sê Lohmann. Hulle het die plek self skoon gemaak en leefbaar probeer kry, maar op 27 Desember huis toe vertrek.”
LEES OOK: Kersvakansie in Marloth versuur deur slenter met verblyf
Steeds woedend – klag geopen
Teen Nuwejaar was hulle steeds woedend en het besluit om ‘n klag by die polisie aanhangig te maak. In Januarie het hulle Komatipoort toe gery om ‘n saak van bedrog te open (MAS 149/01/2026).

Pogings van Laevelder om Geyser vir kommentaar te nader, was vrugteloos. Haar verloofde en haar dogter se fone was af.
Die polisie in Komatipoort het bevestig dat ‘n ondersoek van bedrog aan die gang is.
