Local news

Kersvakansie in Marloth versuur deur slenter met verblyf

Marlothpark se berugte ‘swendelaar’ blyk weer besig te wees om toe te slaan. Lees hier meer daaroor:

“Ons hele Kersgees was geblus met haar slenters!”

Só mor Eileen du Preez, wat op Oukersdag met haar en minstens ses ander gesinne in Marlothpark voor dooiemansdeur beland het omdat hulle na bewering slagoffers van die vakansiedorpie se berugte Larissa Maritz was.

Dit is nie die eerste keer dat Maritz en haar slenters in die media beland het nie. Laevelder het haar reeds maande gelede ontbloot oor die verskeie slenters waarin sy verskeie mense met onder meer geld ingedoen het.

Die Du Preez-gesin het ’n bespreking van 22 tot 28 Desember by Mpofu Sunset Lodge gehad. Hulle het die hele lodge bespreek, omdat hulle as gesin graag saam as ’n groep wou kuier, haar bejaarde ouers inkluis.

Haar hoogs ontstelde broer, Robert Kruger, wat in Amerika werk, het vandag, Vrydag, 10 Januarie, aan Laevelder gesê hulle het reeds vroeg in Desember snuf in die neus gekry dat alles nie pluis met hulle bespreking was nie.

LEES OOK: Nog geen inhegtenisnames ná moord op Lydenburg-pa

“Ons het in daardie stadium reeds die R24 500 ten volle betaal, maar het agtergekom dat Maritz, wat haarself toe as ‘Sarita’ voorgedoen het, telkens weersprekende weergawes oor die besprekings gegee het. Ek het haar toe van my Amerikaanse telefoonnommer gebel en gesê ek wil graag ’n bespreking by Mpofu Sunset Lodge maak [rondom dieselfde datums waarvoor die familie bespreek het]. Sy het waaragtig vir my die bespreking gedoen, dit telefonies en op boodskappe bevestig en selfs ’n faktuur aangestuur.

“Alle hel het losgebars toe ek haar uitwys dat sy eintlik ’n swendelaar is. Ek het ’n berig van Laevelder oor haar streke vir haar gestuur. En toe het sy die vermetelheid om te ontken dat dit sy is en dat die foto saam met die berig nie hare is nie.”

Kruger hulle het besluit om wel deur te ry Marlothpark toe om hulle vakansie te probeer red en het wel op 22 Desember ingeboek.

Op Oukersaand het chaos by Mpofu Sunset losgebars toe nie minder nie as ses ander gesinne daar opgedaag het en agtergekom almal is in dieselfde lodge ingeboek en was nou sonder verblyf gestrand.

“Ons het op Oukersaand as groep na die polisiekantoor gegaan om ’n klag te gaan indien,” vertel Du Preez. “Dit was hartverskeurend om te sien hoe die ander slagoffers, wat babas en bejaardes insluit, verlore daar rondstaan.”

Die polisie het Maritz by haar huis in Elandstraat gaan haal.

LEES OOK: Troublesome Mbombela storm water drainage the last straw

Kruger, wat dit op homself geneem het om as koördineerder vir die klaers op te tree, sê hulle konsolideer nou al die klagtes sodat hulle kan verseker verdere regstappe word teen Maritz geneem.

Volgens hom het dit die aand ’n geskarrel afgegee om inderhaas vir al die gestrande partye verblyf te kry. “Dit was f****n vieslik wat sy met die mense gedoen het. Ek sal sorg dat sy toegesluit word.”

Klagtes kan aan Kruger by 082 398 1502 of Du Preez by 082 322 9327 gestuur word.

Verskeie vrae is aan Maritz gestuur. In haar reaksie ontken sy dat daar ses gesinne was wat op Oukersaand gestrand was, en ook dat sy enige dubbelbesprekings gemaak het.

Sy het wel bevestig dat sy by die polisiekantoor was en R4 500 aan Kruger terugbetaal het. “Hy het die safari self gekanselleer.”

Hou Laevelder dop vir verdere berigte hieroor.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button