Avontuur met langpad kronkels in Skandinawië
Rika de Bruyn is geen vreemdeling vir avonture met ‘n motorfiets aanpak nie, en Noorweë is al geruime tyd op haar lys van plekke om te besoek.
NELSPRUIT – Die dag toe Rika de Bruyn ‘n televisieprogram oor Noorweë sien, beland die land summier reg boaan haar lysie van plekke om te besoek. Sy is geen vreemdeling vir avonture aanpak nie, veral nie met ‘n motorfiets nie.
Toe ‘n ou vriend en motorfietsryer, Anton Prins, bel met die nuus dat hy ‘n rit vanaf Finland (waarheen hy geëmigreer het) na Noorweë beplan, het dit nie baie oortuiging geverg vir haar om op die vliegtuig te klim nie.
“Ek het nooit gedink ek sou dit kon bekostig nie,” het sy vertel. “Ek het my Euro’s, GPS en biltong ingepak, en was gereed vir die reis van my lewe.”
Sy het met haar aankoms in Helsinki ‘n Yamaha FZ-600 gehuur en hulle is vort. “Die vreemdste ding is dat dit die hele week voor my aankoms en weer sedert ek weg is, aanhoudend
gereën het. Maar in die nege dae van ons rit, was die weer wonderlik.”
Met temperature van tussen 18°C-22°C was die grootste aanpassing die feit dat dit so laat donker geword het. En met die somer in Skandinawië, was die kampeerplekke bésig. “Dit was net honde, kinders, en kampeerders waar jy kyk, jy kan dit nie glo nie.”
Aanvanklik was dit ‘n groot aanpassing om aan die regterkant van die pad te ry. “Die verkeersirkels was aanvanklik baie verwarrend!” Gelukkig het Rika gou aangepas en trouens, in die twee week lange kuier nie een ongeluk of slaggat gesien nie.
“Almal volg die reëls. Hulle hou by die spoedbeperking, wat selde 100km/h op hoofweë oorskry. En niemand drink ‘n druppel drank voor hulle bestuur nie.”
Drank is duur. Waar ‘n kampeerplek vir twee tente R210 kos, het hulle die eerste aand die ekwivalent van R260 vir twee tapbiere en ‘n koeldrank betaal.
Vanaf Stockholm en deur Oslo het hulle hoofsaaklik op die hoofweg gery, tot hulle op dag drie die kuslyn bereik het. Bekend vir fjorde, was Noorweë se landskap aswemrowend. Die reis het verskeie kort veerboot-ritte en ongeveer 40 tonnels deur berge en onderdeur mere en fjorde ingesluit.
“Op dag vier het ons Geirangerfjorden, wat op Unesco se erfenislys pryk, bereik. Dié juweel is omring met majestieuse sneeubedekte bergpieke en watervalle om die blou mere. Ons het deur vele steil haarnaalddraaie geklim.”
Buiten verdwaal toe sy vir Anton in Olso verloor het, haar foon wat gebreek het, en benoude oomblikke in die tonnels waarvan sommige oud en swak belig was, sal die veiligheid van die kampeerplekke, die volop gratis Wi-fi en die seepgladde gemak van goed gedoen kry, haar altyd bybly.
Na afloop van die 2 980km-lange roete terug na Helsinki, was dit tyd om huiswaarts te keer. Volgende op die lys? Die Tour de France op ‘n motorfiets.
