Motorfietsryer in hospitaal na ongeluk
Die twee ooggetuies se vertellings van die gebeure verskil drasties in die detail.
NELSPRUIT – Gemoedere het hoog geloop op die toneel van ‘n ongeluk vanmiddag waartydens ‘n jong motorfietsryer beseer is.
‘n Swart Toyota Fortuner het ‘n Suzuki GXR 75O reg van agter getref en saam gesleep voor die voertuig tot stilstand kon kom. Verder as dit het die ooggetuies oor al die detail wat tot die voorval aanleiding gegee het, verskil.
Volgens die bestuurder van die kar wat hom voorgestel het as mnr. Morris Masego, het hy in Riverside by die sirkel op die Lydenburg-pad twee motorfietsryers teë gekom. Hulle was almal in die rigting van Mbombela Stadion op pad.
Volgens Masego was die motorfietse agter hom toe hy een van die hulle liggies met die regter agterkant van sy voertuig getref het. Hy het met handgebare gewys dit was per ongeluk en om verskoning gevra.
Mnr. Louis Weilbach (26), die beseerde, het Masego verbygesteek en volgens Masego voor hom ingeswaai. “Hy was te naby vir my om te rem voor ek hom getref het,” het hy op die toneel gesê. Die motorfiets is sowat 15 meter deur die Fortuner gestoot. Hulle het nagenoeg bo-op die brug wat oor die N4 loop, tot stilstand gekom.
‘n Ooggetuie, mnr. Hentie Scholtz (25), het die ander motorfiets bestuur en is ook Weilbach se neef. Hy het per telefoon vanaf Mediclinic Nelspruit vertel dat Masego vir Weilbach op die draai in die pad van sy fiets af probeer ry het. Hy het bevestig dat Weilbach die Fortuner verby gesteek het, maar reken Masego het vir laasgenoemde dreigende handgebare gewys.
Volgens Scholtz was sy neef sowat 60 meter voor die Fortuner toe hy spoed verminder het om in die geel streep af te trek. “Ek was langs die Fortuner en kon hoor hoe hy versnel,” het hy gesê. “Hy het die fiets onder hom uitgestamp en hom toe gestamp.”
Scholtz het bevestig dat hy en sy neef vroeër by die Blou Marlyn kroeg gekuier het en dat Weilbach alkohol gedrink het, maar dat hy heeltemal bevoeg was om te bestuur. Scholtz het die ambulansdienste gebel en ER24 het Weilbach hospitaal toe geneem. Ten tyde van die gesprek was hy nog in ongevalle.
