Jonges gee toon aan op motorfietse
Swanevelder en Prinsloo het onlangs onderskeidelik ‘n algehele eerste en derde plek in die 200 Klas tydens die 2013 Rudamans Series Championships behaal, wat uit vier wedrenne bestaan het.
Wanneer die R36 jou in die rigting van Badfontein lei is die waarskynlikheid groot dat, indien jy ‘n seun is en op die plaas grootgeword het, jou pad met ‘n motorfiets sou kruis.
Brendan Swanevelder (16) en Klaas-Johan Prinsloo (17) het beide hier hul liefde vir stofpaaie, modderbane en kliprandjies ontdek en min geweet dat hulle ‘n paar jaar later reeds verskeie posisies op die motorfiets-punteleer sou beklee.
Swanevelder en Prinsloo het onlangs onderskeidelik ‘n algehele eerste en derde plek in die
200 Klas tydens die 2013 Rudamans Series Championships behaal, wat uit vier wedrenne bestaan het.
Gedurende dié byeenkomste in Barberton, Buffelskloof, Pilgrim’s Rest en Witrivier, het Swanevelder 75 punte ingepalm wat aan hom ‘n eerste plek besorg het en Prinsloo het 65 behaal, wat hom derde in die kompetisie geplaas het. Punte word volgens die MSA-tabel toegeken en die wenners word aan die einde van die seisoen aangekondig.
Dit blyk dat die gewildheid van hierdie sportsoort die afgelope tyd nie net aandag van die motorfietsryers geniet nie, maar ook van die hele gesin. “Dis ‘n wonderlike sport waar families naweke saam kan geniet,” vertel Brett se pa, wat self ook ‘n voorliefde vir fietsry het. Volgens Swanevelder kweek hierdie sport ‘n gesonde leefwyse en bevorder dit verskeie kritiese ontwikkelingsdissiplines by die motorfietsryers. Hulle oefen gereeld in die Badfontein- omgewing en Swanevelder het selfs ‘n motocross-baan gebou weens die beperkte oefenterrein in Lydenburg en omstreke.
“Dis die beste plek om te oefen, maar ook streng gesproke die enigste een waar ons toegelaat word om ons eie baan uit te lê,” sê Clifford McGee wat ook ‘n kranige motorfietsryer is. Swanevelder en Prinsloo bedank hul borge wat PG Glass, McGee Yamaha, Hyde, Pirelli en Brother insluit en veral hul ouers wat dit vir hul moontlik maak om die sport te beoefen. Swanevelder gaan vanaf 13 tot 16 November aan die Roof of Africa deelneem en Lydenburg wens hom alle voorspoed toe.


