Kan jy met vrymoedigheid skenk?
Vrae ontstaan oor fondse vir plaaslike renosterbewaringsgroep.
gebruik is.
NELSPRUIT – ‘n Warm gevoel in die hart. Dit, eerder as sakke vol geld, is wat hulle uit die onlangse Run 4 Rhinos-projek gekry het, volgens die plaaslike nie-winsgewende maatskappy Rhino Buddies NPC. Maar vrae oor hoe hierdie maatskappy hul fondse aanwend, het die prentjie nou effe versuur.
Run 4 Rhinos was ‘n spanpoging deur Rhino Buddies en die Mpumalanga Toerisme- en Parke-agentskap (MTPA), met die doel om skoolkinders langs provinsiale parke met inligting oor renosterbewaring te bereik. Dit is in Augustus geloods en het met ‘n marathon op 28 September by LVCC geëindig, waaraan die eerstydse langafstandkampioen, Zola Budd-Pieterse ook deelgeneem het.
Waaroor die ongelukkigheid?
Navrae vanuit ander bewaringskringe is na afloop van die veldtog aan Laevelder gerig oor hoe die opbrengste aangewend gaan word. Volgens ‘n verslag van mnr. PG Joubert, uitvoerende direkteur van Rhino Buddies NPC, wat op 11 Oktober aan die koerant gestuur is, staan die inkomste vir die dag digby R5 000 en sal dit gebruik word om ‘n mobiele ballistiese toetstenk vir die Nasionale Krugerwildtuin te vervaardig. Joubert het hierdie week gesê dat SANParke egter aangevoer het dat hulle geen nut daarvoor het nie.
“Ons sal dit dan aan die MTPA skenk,” aldus Joubert.
Hy en mnr. Guy Briggs (wat onlangs as ‘n vierde direkteur van Rhino Buddies aangestel is), het aan drie bewusmakingsdae saam met die MTPA by Moutse, Mooiplaas en Bosbokrand deelgeneem. Koördineerder van die projek, me. Marinda Marais, het die veldtog as “uiters suksesvol” beskryf, met ongeveer 80 000 skoolkinders wat ‘n boodskap oor renosterbewaring gekry het. Sy het egter haar bedenkinge oor die bydrae van Rhino Buddies uitgespreek. Joubert meen, “Nie net het ons kos aangery nie, maar ook ondersteunend opgetree vir die MPTA en aktiwiteite gekoördineer.”
‘n Skenking van R69 000 deur Metropolitan is aangewend om items vir die veldtog te bekom. Laevelder het nie die lys of faktuur wat aan Metropolitan uitgereik is, gesien nie. Die begroting van die MTPA vir die veldtog dui aan dat Rhino Buddies vir 300kg vleis, pap, en hoender sou sorg. Hiermee het hulle twee perde met ruiters en afstandbeheer-helikopters by die vier geleenthede verseker.
‘n Bedrag van R2 000 is aan ‘n spysenieringsmaatskappy, Reniers Catering, betaal vir potjiekos aan 40 BBP-gaste. By navraag het Joubert erken dat die spyseniers nie geregistreerd is nie.
Hy sê: “Mens kan nie verwag dat elke ou eers moet registreer as hy besluit het hy gaan met iets begin nie.”
Aantygings is ook gemaak dat van die inkomste vir Run 4 Rhinos vir die versorging van renosterwesies bedoel was. “Nee, op geen pamflet of plakkaat of sosiale media-netwerk is dit ooit gesê nie,” lui Joubert se antwoord hierop. Me. Petronel Niewoudt van Care for Wild Africa, waar wesies versorg word, sê sy was onder die indruk dat ‘n finansiële bydrae gemaak sou word, aangesien haar renostertjie in die bemarking gebruik is. “Zola het ook tydens haar besoek, aan my gesê dat sy graag sal wil hê van die geld na ons toe moet kom,” volgens Niewoudt.
Die vrae oor geld “krap” terwyl hulle wil aangaan met projekte
Vrae oor skenkings en die aanwending van fondse “krap aan ‘n mens,” sê Joubert, voor hy oor al die toekomsplanne van die organisasie uitbrei. “Ons sal graag weer saam met die MTPA wil werk, hulle het al die hulp nodig wat hulle kan kry.” Briggs, wat voor sy direkteurskap as ‘n onafhanklike fondsinsamelaar vir Rhino Buddies beskryf is, het ook sy ongelukkigheid oor die vrae uitgespreek en die motivering daaragter bevraagteken.
In die bogemelde verslag van Joubert verduidelik hy dat Briggs 28 persent van skenkings ontvang, na onkoste. In hierdie hoedanigheid dra Briggs alle risiko indien ‘n projek nie slaag nie. Volgens Joubert het geen direkteur al ‘n inkomste van Rhino Buddies ontvang nie.
Inteendeel, sê hy, daar is leningsrekeninge ten gunste van twee.
Met die stigting van Rhino Buddies NPC, kon hulle geen wetlike voorskrifte vir die verdeling van fondse vind nie, en hulle het hulle onder advies van ‘n ouditeur besluit dat ‘n maksimum van 20 persent van inkomste aan administratiewe uitgawes mag gaan.
Skenkings van R500 en R10 000 van ‘n privaat-individu en die Hogs-motorfietsklub onderskeidelik lê volgens hom veilig in die bank en sal gebruik word “waarvoor dit bedoel is”.
Joubert en Briggs is dit eens dat hulle nog ‘n groot rol in renosterbewaring kan speel. As hulle nou net oor hierdie “ding” kan kom.
Rhino Buddies NPC is volgens rekords wat Joubert aan Laevelder getoon het, by die departement ingevolge regulasies wat in September 2013 aangekondig is, geregistreer.
Wil jy help om plaaslike bewaring te bevorder?
Indien jy graag ‘n skenking aan renosterbewaring of verwante organisasies wil maak, oorweeg gerus die volgende:
• Wessa Lowveld – fondse word onder andere vir die aanskaf van toerusting wat nodig is om stropery teen te werk, aagewend.
Navrae: 083-630-1782 of lowveldchair@wessa.co.za
• Care for Wild Africa – hierdie is ‘n sentrum wat onder andere renosterwesies wat se ouers gestroop is, inneem.
Navrae: 082-825-8735 of petronel@careforwild.co.za
• Second Chance Wildlife Rehabilitation Centre – dié sentrum naby Badplaas red en versorg kleiner wildspesies insluitende wilde katte, jakkalse, voëls, nagapies ensomeer.
Donasies aan Absa White River, rekeningnommer 4074632144
Navrae: 082-899-4108
Sien gerus besonderhede op die webtuiste by www.lowvelder.co.za
