Die gesin van Mbombela se Maggiesdal-behuising het toe oor die afgelope naweek uit hul huis getrek.
NELSPRUIT – Die Kruger-huishouding van Maggiesdal waaroor Nelspruit Post al 'n geruime tyd berig, het die naweek uitgetrek.
Mnr. Pieter Kruger, die huurder wat saam met sy vrou, baba en skoonma daar gebly het, is aanvanklik drie maande kennis gegee om uit huis nommer nege op Mbombela-munisipaliteit se behuisingsprojek te trek. Hulle was veronderstel om teen Saterdag die plek te ontruim.
Tog het hulle aangevoer dat hulle, sedert hulle die uitsettingskennisgewing ontvang het, 'n ooreenkoms met die munisipaliteit aangegaan het om langer aan te bly. Volgens Kruger het hulle skriftelik onderneem om nie die munisipaliteit verantwoordelik te hou, sou hulle persone of eiendom as gevolg van die strukurele skade aan die eiendom iets oorkom nie.
Mnr. Joseph Ngala, woordvoerder vir die munisipaliteit, het bevestig dat Kruger 'n brief geskryf het om te versoek dat hy vir nog drie maande in die huis kan aanbly, waarin hy ook onderneem het om die agtersallige geld te betaal, maar dat dit nie beëdig was nie.
Volgens Ngala skuld Kruger Mbombela in die omgewing van R12 000 vir agterstallige huur, wat elektrisiteit insluit, vir die afgelope ses maande. Die koerant het verlede week berig dat hul krag afgesny is.
“Hy is gewaarsku dat sy elektrisiteit afgesny sou word as hy aanhou om nie huur te betaal nie,” het Ngala gesê. Kruger sou dit glo op 25 Oktober betaal, maar het nie. Hy het toe glo onderneem om dit op 1 November te betaal. Toe die krag die dag afgesny is, het hy onderneem om die volgende dag 'n plan te maak, maar het toe 'n kragopwekker met die geld gaan koop.
Kruger voer egter aan dat die opsigter, mnr. Martien Roberts, nie die geld wou aanvaar toe hy op 1 November van 'n week lange opleiding in Gauteng af teruggekeer het nie.
Verlede Donderdag het me. Jossie Mareé, Kruger se skoonma, egter gesê dat die water afgesny is. Volgens mnr. Hannes de Kock, wyks-raadlid, is hy deur mnr. Joseph Sithole, die munisipaliteit se hoof van behuising, verseker dat dit nie die geval was nie. Ngala het verduidelik dat water twee keer 'n week afgelewer word.
“Die water was amper op, maar toe is daar meer in die sementdam gesit. Die opsigter moes alle kleppe wat water aan die huise voorsien
toemaak, sodat in die reservoir gepomp kon word,” het hy gesê.
Noudat die gesin uitgetrek het, het De Kock gesê dat hy twyfel of die huis weer verhuur sou word, aangesien Mbombela beplan om Maggiesdal te herontwikkel. Hy het ook verlede week tydens 'n vergadering vir inwoners van Wyk 16 gesê dat die munisipaliteit daarteen besluit het om 'n reëling te tref waarvolgens inwoners hul huurgeld direk in Mbombela se bankrekening sou inbetaal, omdat dit glo nie nodig was nie.
Ngala het bevestig dat die lank-beloofde opnames van die eiendomme by Maggiesdal gister (Dinsdag) sou begin.
