Plaaslike fietsryer trap sy pad oop na sukses
“Na my eerste resie het die gogga my gebyt en sedertdien het my motivering nooit leeggeloop nie.”

“My eerste bult sal ek seker nooit vergeet nie en dit was maar net twee kilometer. Ek was amper dood.”
So vertel Lourens Beeslaar van sy eerste amptelike ervaring as fietsryer, maar vandag, ses jaar later, spog dié einste Lydenburger reeds met 20 podiumposisies vir 2013.
“Na my eerste resie het die gogga my gebyt en sedertdien het my motivering nooit leeggeloop nie.”
Die 27-jarige Lydenburger vertel hoe hy vroeër jare altyd motorfiets gery het, maar dat sy twee seuns hom tot ander insigte gebring het.
“Ek het besef dat motorfiets aan die gevaarlike kant is en ek wou graag vir hulle ‘n voorbeeld wees deur ‘n gesonde leefstyl te handhaaf.” Hy noem kort-kort dat dit die einste twee is wat as een van sy grootste motiverings dien.
“Die lekkerste gevoel en grootste belonging wat daar vir my kan wees, is as ek op pad is na die wenpaal en ek my twee seuntjies hoor skree, ‘Go daddy’!”
Kort nadat Beeslaar besluit het om sy lewe in ‘n tweewiel-rigting in te stuur, het hy byna vir ‘n jaar dié leefwyse opsy geskuif nadat sy pa in ‘n ernstige fietsongeluk betrokke was en die pad na herstel ‘n tydsame, maar ook emosionele proses was.
Maar hy vertel dat dit die woorde van die welbekende XTerra-wêreldkampioen was wat hom geinspireer het om weer op die saal te klim.
“Conrad Stoltz het op ‘n dag by my kom sit en gesels. Hy het my weer gemotiveer en ek het besluit om voluit daarvoor te gaan.”
Dit was duidelik dat Beeslaar nie net Stoltz se woorde ter harte geneem het nie, maar dat dit terselfdertyd soveel meer bygedra het tot die ontwikkeling van sy karakter.
“Fietsry het my nie net geleer om fiksheid en gesondheid ‘n prioriteit te maak nie, maar dit het my geleer hoe om te fokus en deur selfgedrewenheid my doelwitte na te streef en te bereik.” In 2013 het hy reeds agt eerste plekke verower en dit blyk nie die einde van sy drome te wees nie.
“Ek streef daarna om ‘n mededingende fietsryer te wees wat resultate kan lewer wat my elke keer op die podium sal plaas.”
Volgende jaar is vir hom ‘n belangrike een en hy noem dat hy graag as Mpumalanga-kampioen bekroon sal wil word en sodoende ook SA-kampioen en eindelik om die wêreldkampioenskappe binne die volgende jaar of twee ‘n realiteit te maak.
“Daar is natuurlik ander wedrenne ook op my lysie soos die Das Auto en die Mpumalanga Classics, wat ‘n persoonlike uitdaging is natuurlik die Mpumalanga Road Championships,” voeg hy by.
Maar afgesien van goeie prestasies en groot drome, blyk dit of Beeslaar se voete stewig op die grond geanker is.
“Ek wil vir jong opkomende fietsryers ‘n voorbeeld wees en ek wil deur my fietsry vir hulle wys hoe kosbaar dit is om jou vrou en kinders daarby betrokke te kry en die belangrikheid van hul ondersteuning daardeur beklemtoon. Ek koppel nie rykdom aan geld nie, maar my ware rykdom lê in tyd en die dag as jy nie meer ‘n hoogtepunt in elke oomblik kan sien nie, ongeag ‘n posisie of trofee, is dit nie meer die moeite werd nie.
Elke dag is vir my ‘n hoogtepunt.”
Beeslaar spandeer ongeveer vier tot sewe ure per dag op die fiets en sal met tye tot 170 kilometer per dag kafdraf.
“Fietsry is my medisyne en dis elke keer soos ‘n klein vakansietjie as ek op my fiets klim” vertel hy terwyl hy sy dankbaarheid teenoor Safari Furn en Kitchens uitspreek, waar hy self ook mede-eienaar is, wat hom die geleentheid bied om sy drome te verwesenlik deur sy oefentye met sy werksverpligtinge te kombineer.
“Dis ‘n wonderlike voorreg en ek is dankbaar vir elke bydrae, hoe groot of klein ook al.”
Hy bedank graag die volgende borge: Samancor CR Tubatse Chrome Mining, BJF Financial Services, Valencia Cycled, Powasol, Infinita Training Academy, FutureLife, Race Pace asook Arie en Conrad van Longtom Cycle and Sport.
