Kompetisie om nuwe baadjie vir Botaniese Tuin te ontwerp
Wie sal nou nie opgewonde raak daaroor om 'n nuwe aangesig vir een van die streek se mees bekende landmerke te gee nie?
NELSPRUIT – Die Laeveld Botaniese Tuin gaan binnekort ‘n nuwe baadjie kry. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteit Instituut (Sanbi) het ‘n kompetisie vir argitekte geloods om die opknappingswerk te doen. Ingang twee gaan herontwerp word en ‘n totaal van R1,5 miljoen word daarvoor toegestaan.
“Van die 10 nasionale tuine regoor Suid-Afrika, is die Laeveld die enigste een met ‘n tropiese woud wat nie deur ‘n groenhuis omring word nie. Ons wil besoeke aan die tuin onvergeetlik maak,” vertel die kurator, Thaki Mammatsharaga.
‘n Voorligtingsessie het Maandagoggend in die opvoedingsaal van die tuin plaasgevind en ‘n hele paar argitekte gaan om dié prys meeding. Hulle het tot Vrydag 21 Februaie die geleentheid om hul ontwerpe in te dien.
“Ingang een is etlike jare gelede opgegradeer en die nuwe een moet dit komplementeer. Gedurende die proses sal die natuur so min as moontlik versteur word,” vertel die projekbestuurder, Lourens Vermaak van Aurecon.
Die ingang moet die volgende bevat:
• ‘n kaartjiekantoor
• ‘n winkeltjie
• ‘n betaalpunt vir die kwekery
• genoeg spasie vir die nodige papierwerk en ‘n lugversorger
• ‘n klein kombuisie vir die werknemers
• ‘n uitstalruimte wat deel van die kantoor vorm
• ‘n afdakkie by die kantoor
• buitesitplekke
• die huidige tuinhuisie wat as ‘n sekuriteitspunt dien, moet in ‘n permanente gebou omskep word
• dit moet geskik vir gestremdes wees.
Die wenner sal op 24 Februarie aangekondig word.
“Vyf bekende argitekte, Neels van Rooyen, Emmanuel Nkambule, Mira Fassler Kamstra en Martin Bahnemann en Chris Willes is as beoordelaars aangewys.
“Ons sien baie uit na die idees waarmee hulle vorendag gaan kom en kan nie wag
om die eindproduk te sien nie,” sê een van die land se mees gerekende argitekte, Roger Fisher.



