Local newsNews

Oud-Nellie gekies as een van die land se mooistes

Wat is die eerste gedagte wat by jou opduik as jy aan die realiteitsprogram America's Next Top Model dink?

NELSPRUIT – ‘n Klomp katterige meisies wat hul heupe swaai, of voel jy dat ‘n mens die onderlaag van hul gesigte kan afskraap soos wat dit aangeplak is?
‘n Oud-leerder van Hoërskool Nelspruit, Abigail de Jager (19) vertel dat dit glad nie die geval is nie. Sy is een van die top-33 finaliste in Mej. Suid-Afrika.
Om deel van dié groep beeldskone vroue te kan wees, oortref haar wildste drome. “Ek kan nie eers onthou waarom ek besluit het om modelklasse te neem nie. Ek het by Designer Models saam met Ronel Joubert begin werk en later saam met Rozelle Olivier by D&A Model Management in Kaapstad. Hulle het my portefeulje aan verskeie agentskappe gestuur,” vertel
Abigail.
Sy studeer tans BCom-bestuurswetenskappe aan die Universiteit van
Stellenbosch, en kan nie wag om aan die einde van die maand na die sprokiesdorp terug te gaan nie. “Ek het só verlief op die Kaap geraak. Ek floreer en groei daar.”
Dit was so byna of sy het die streeksuitdunne wat gedurende November
in Kaapstad plaasgevind het, gemis. “Ek dra nie my foon by my nie, veral nie deur die dag nie.

Ek het gesien dat ek ‘n hele paar oproepe gemis het, waarvan
een ‘n boodskap was wat my gelukgewens het met my insluiting in die
streeksuitdunne.”
Abigail het ‘n dol week gehad – sy het toetse geskryf en om dit te kroon, is haar kar afgeskryf. “Daar is nooit parkering in Stellenbosch nie. Ek het op ‘n onwettige plek parkeer en toe ek weer sien, het ‘n paal bo-op my kar geval.”
Sy het nie die goeie nuus met iemand gedeel nie en het nie geweet hoe sy daardie Saterdag in Kaapstad sou kom nie. “My tannie wat in Kaapstad woon het my toevallig gevra of ek daardie naweek by haar wou gaan
kuier. Ek het ingestem en die volgende dag haar kar geleen.”
Sy het die groep van 33 gehaal en hulle is vir ‘n week Johannesburg toe waar hulle in die Maslow Hotel tuisgegaan het. “Dit is die wonderlikste groep meisies. Ons is vriendinne en almal respekteer mekaar. Ons het onsself daardie week behoorlik trommeldik geëet.”
Hoekom het hulle haar gekies? “Ek dink nie ek het so hard probeer om
die beoordelaars te beïndruk nie. Ek was net myself. Ek het só skaam gekry – ek kou nooit kougom nie, maar tydens die een onderhoud het ek vir een of ander rede een in my mond gehad.

‘n Beoordelaar het ewe gevra, ‘Wat is daardie in jou mond, ‘n Chappie?’ Ek het net gebloos en dit iewers in my kieste gebêre.”
As sy nie die top-12 haal nie, is dit nie vir haar ‘n ramp nie – vir eers geniet sy studentwees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button