Komati vories gee om vir ons senior burgers
Komati Vories het Vrydag 21 Februarie ‘n straatoptog in Komatipoort gehou om blikkies ten bate van die dorp se bejaardes te skud.
Komati Vories het Vrydag 21 Februarie ‘n straatoptog in Komatipoort gehou om blikkies ten bate van die dorp se bejaardes te skud. Sestig Voortrekkers, geklee in blou Voortrekker-gholfhemde, het om 14:30 onder leiding van die Nkomazi Munisipaliteit se verkeersafdeling, vanaf die skoolterrein vertrek om die besigheidsektor van die dorp se munte in te samel.
FNB het vir elke span ‘n “kuduzela” geskenk om die optog meer hoorbaar te maak en elke Vorie was met ‘n selfgemaakte plakaat en ‘n versierde blikkie gewapen. Die ouers en spanleiers het die kinders vergesel, en ‘n voertuig was beiderhand vir wanneer die beentjies moeg geraak het. Met ‘n luide geskal is die groep in Wildebeesstraat af tot by die SPAR-sentrum, waar hulle in spanne verdeel het in ‘n poging om by elke winkel uit te kom. Die publiek se beursies was oop en daar was ‘n wilde geskarrel om al die blikkies vol te kry.
Die optog het van daar af in die hoofstraat op beweeg, waar die verkeersvoertuig se loeiende serenes motoriste gewaarsku het dat ‘n kosbare groep kinders die pad beset. By elke winkel het die munte ingerol, selfs al moes die meertalige Vories soms Portugees of siSwati praat om die winkeleienaars te oortuig om by te dra.
Terug by die skool, het die spanne hulle blikkies leeggemaak en getel, en die inhoud van ongeveer R2 000 is aan Oom Ben en Tannie Maria, wat die Tehillaha Community Hub verteenwoordig het, oorhandig. Hierdie organisasie van Lerene van der Merwe, is ‘n inisiatief wat poog om minderbevoorregte bejaardes te help, veral met kos en noodsaaklikhede.
Soos wat dit die Voortrekkers betaam, is die geleentheid met pannekoek en gemmerbier, wat deur die ouers voorsien is, afgesluit. Elke Vorie weet dat diensbaarheid deel van Afrikanerskap, burgerskap en Christenskap is – die ABC van Voortrekkerwees.
