Die VLU wys hoe om die perfekte koeksister te bak
Die nuwe VLU tak, Vlamlelie, het die afgelope week die leerders van KaMagugu Inclusive School geleer hoe om koeksisters te bak.
Die Vroue-Landbou-unie (VLU) het die afgelope week skole besoek en die leerders geleer hoe om heerlike koeksisters te bak. Sunette Barnard en Maaida Miljo is deel van die splinternuwe VLU-tak, Vlamlelie. Hulle is deel van die Hullets-koeksisterkompetisie en gaan jaarliks Johannesburg toe as beoordelaars om die vier finaliste wat by Innibos deelneem, te kies.
Sunette en Maaida besoek skole, veral minderbevoorregte plekke, en wys dan die leerders hoe om koeksisters te bak. Die week was 400 leerders van KaMagugu Inclusive School in hul noppies toe hulle hoor hulle gaan die geleentheid kry om hul eie koeksisters te bak en dit dan self te geniet.
“Ons wil graag die kinders van entrepreneurskap leer, sodat hulle kan weet hoe om te bak en dan kan hulle dit later verkoop,” het Sunette gesê. Sy en Maaida het enige skool wat van die geleentheid gebruik wil maak, genooi om hulle te skakel. Dit is gratis, aangesien Vlamlelie al die benodighede en bestandele voorsien. Skakel Sunette by 082-808-9711.
