Die Land Roverklub skenk uit hul harte aan die DBV
Sondag het die honde en katte by Barberton se Dierebeskermingsvereniging (DBV) gedink Kersfees het vroeg aangebreek.
Sondag het die honde en katte by Barberton se Dierebeskermingsvereniging (DBV) gedink Kersfees het vroeg aangebreek.
Dit was toe ‘n groot groep lede van die Laeveldse Land Rover-eienaarsklub (LLROC) vroegoggend daar ingeloer en oor al wat die stert kan swaai, ge-oe en ge-aa het. Sommige van die klublede was ook vergesel van hul eie vierpotiges.
Dié groep, wat as deel van sy jaarlikse welwillendheidsprojek kos en fondse vir die sukkelende Barberton DBV ingesamel het, het in konvooi aangekom met ‘n enorme sleepwa vol kos en heelwat bale hooi vir die perde wat buite die dorp deur die DBV versorg word. Afgesien van die kos wat sekerlik ‘n paar duisend rand beloop het, was daar ook R2 854 wat oor ‘n tydperk ingesamel is.
“Min het ons geweet wat om te verwag toe julle aanbod gekom het om vir ons tak te probeer help na ons amperse bankrotskap ‘n paar maande terug! ‘n Baie groot en welgemeende dankie dat julle ons by julle uitstalling in Ilanga Mall as jul liefdadigheidsorganisasie gepromoveer het. Die vrygewigheid van die publiek was wonderlik en ons het genoeg kos ontvang om ons deur die feestyd te dra. Dit was wonderlik om te sien hoe die sakke en pakke uit die Landies na ons pakkamers gedra word,” het Marlies Liebenberg van die DBV gesê en vervolg: “Om julle te ontmoet was ‘n voorreg. Julle is ‘n klomp wonderlike mense en ek is bly julle kon ‘n tydjie saam met ons en die honde deurbring en sien waar julle donasie aangewend sal word. ‘n Spesiale groot blyk van waardering aan jou, Joyce, wat alles so mooi gereël het. Ook ‘n groot dankie aan Marius Bakkes, want ons is seker hy het ons situasie in Barberton onder jul aandag gebring.”
Liebenberg het die lede van die LLROC verseker dat hulle altyd welkom is om besoek af te lê en ook die hoop uitgespreek dat hulle in die toekoms weer sal saamwerk. “Nogmaals dankie uit ons harte vir julle mooi gebaar.”
Afgesien van die finansiële uitdagings wat daagliks aan die Barberton DBV gestel word, kry hierdie organisasie dit reg om net die beste aan elke dier te gee wat by hulle aanland. Daar is meer as genoeg speelplek vir bene rek en die personeel is almal groot diereliefhebbers. Elke dier kry dus daagliks die nodige aandag.
Sonder die goedhartigheid van mense soos die LLROC, sal dit haas onmoontlik wees vir hierdie nie-winsgewende organisasie om sy deure oop te hou.
Nadat daar lekker gekuier is, het almal ‘n koppie boeretroos weggeslaan voor die uittog uit Barberton begin het. Ontbyt is op die pad terug na Mbombela by Lovely-Jubley genuttig.
