EntertainmentFeaturesFoodLifestyleLocal newsNewsPeople

Die lewe is ‘n oester vir dié boorling van die Weskus

Die plat-op-die-aarde eienaar van De Vette Mossel gesels oor lewe in die Weskus, sy ontmoetings met van die wêreld se voorste leiers en... 'n skaap-spitbraai op die parlement se stoep .

MBOMBELA – Niël du Bois druk sy Camel-sigaret in die asbakkie dood, kruis sy kaal, sandbedekte voete op die bankie van die koffietafel en neem ‘n groot sluk water. Hy gebruik sommer ‘n maatbeker as ‘n glas. Hy is ‘n plat-op-die-aarde Weskusman sonder enige voorgee.

Niël sit by die Hoog-Inni-Takke-Sigaar-Bar by De Vette Mossel. Hy het dié Weskus-tema-seekosrestaurant vroeër die maand in Mbombela oopgemaak. Hy besit nóg drie- in Klein Brakrivier, Hartbeespoort en Parys – en beplan om nog een in Stellenbosch oop te maak.

“Ek wou die see na die bosveld toe bring. As Mohammed nie na die berg toe kom nie, gaan die berg na Mohammed toe.”

Sy mark is “upper-crust-mense, wat nog in ‘n heeltemal spartaanse, rustige manier wil kuier, met kaal voete en kortbroeke; nie die val-in-die-vuur-van-te-veel-brandewyn mense nie,” sê hy. Daarom het hy Mbombela gekies.

“Dis ‘n gesinsrestaurant.” Hy wys na die speelpark wat gebou word. Daar is geen plastiese glyplank of swaaie nie, net hout en net. “En dáái is ‘n Afrika-speelpark.” Niël het alles self ontwerp soos hy dit wou hê toe hy ‘n klein seuntjie was. “Ek het nog al my kleinseuntjiedrome.”

Die speelpark bestaan uit ‘n klein dammetjie, die “mosselvanger”-uitkykpunt, die Deur-Die-Blare Sky-Walk-bruggie wat lei na die nege meter hoë namaaksel van die vuurtoring op Tietiesbaai, en ‘n reusevinknes waarin kleingoed gemaklik kan sit terwyl hul ouers aan vars garnale smul. Kinders se veiligheid is die hoofdoel, daarom is elke venster en reling met net bedek.

“Daar is ‘n groot verskil tussen kinderlikheid en kinderagtigheid,” sê Niël met sy sterk Weskus-brei, “en ek wil nooit my kinderlikheid verloor nie.”

Dít en sy liefde vir kos het hom al in menigte ongewone omstandighede laat beland – veral toe hy by politiek betrokke was.

Demokratiese Suid-Afrika was nog in sy babaskoene toe Niël ‘n skakelbeampte in die parlement was. “Ek haat streng reëls en die blerrie parlement het miljoene van die goed. Ek het eendag vir die protokolbeampte gevra of daar ‘n reël teen ‘n spitbraai op die parlement se stoep is. Hy het my uitgetrap en gevra of ek mal is, maar het op die ou end erken dat daar geen so ‘n voorwaarde is nie, ‘want niemand het ooit gedink om so een te maak nie’. Toe reël ek ‘n skaap-spitbraai op die parlement se stoep tydens die 1995 Rugbywêreldbeker.”

In ‘n tyd toe wantroue hoog in die regering geloop het, het Niël mense deur kos saamgesnoer. Hy het elke Vrydagmiddag vir ‘n paar ministers seekos gemaak. “Die hele parlement het van bo tot onder na knoffel geruik. Niemand mag hier oor werk gepraat het nie. Dit het mense gemaklik laat voel en almal kon mekaar in ‘n gemaklike omgewing leer ken.”

Gedurende sy agt jaar as skakelbeampte, het hy met van die wêreld se voorste leiers skouers geskuur. “Ek het Mandela seker al 50 keer ontmoet en het saam met hom na Robbeneiland getoer.

Ek het selfs al vir koningin Elizabeth II en die Dalai Lama tydens hul staatsbesoeke na Suid-Afrika ontmoet. Ek kom nou eers eintlik agter hoe gelukkig ek was.”

Voor sy politieke loopbaan was Niël vir byna 10 jaar ‘n verslaggewer in omgewingsake vir onderskeidelik Volksblad, Oosterlig en Die Burger. Hy het sy honneursgraad in joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch (US) behaal. Dit was die eerste jaar wat US dié graad aangebied het en Niël was klasmaats met, onder andere, Marita van de Vyver en Marieta Kruger.

“Ek is die enigste een van my klas wat nie famous geword het nie.”

Hy woon vandag nog in Stellenbosch. Sy kinders, Inke, Gustav en Lené werk en studeer ook op die dorp.

“Ek is op ‘n baie lekker plek in my lewe,” sê hy met ‘n sku glimlag. “My kinders hou van my geselskap en ek sien hulle gereeld op StellenboschIMG_2572 (Medium) IMG_2568 (Medium) IMG_2564 (Medium) IMG_2561 (Medium). Ek wil ook binnekort ‘n Mossel daar oopmaak.”

Hy sug en staar uit na die bouery by die restaurant vanuit die sigaar-bar. “Nee wat, die lewe is goed. Die lewe is ‘n oester en ek is reg om hom te pluk.”

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button