Waarom doen Umjindi Munisipaliteit nie wat hulle verkondig nie?
Die feesseisoen klop skaars aan die voordeur van 2014, en sommige inwoners het reeds die klappers uitgehaal en begin lawaai maak.
Die feesseisoen klop skaars aan die voordeur van 2014, en sommige inwoners het reeds die klappers uitgehaal en begin lawaai maak.
Vroeg reeds op Maandagoggend het Barberton Times klagtes van inwoners in Van Niekerkstraat ontvang, oor hulle diere wat vreesbevange is omdat iemand in die omgewing klappers skiet.
Die booswigte, twee kinders, is opgespoor en gewaarsku, maar ‘n kort tydjie later het hulle doodeenvoudig aangegaan. Die koerant het gaan ondersoek instel en die huis ter sprake in Bokstraat gekry. ‘n Naburige inwoner, Hennie Janse van Rensburg, het ook opgedaag, op soek na die skuldiges. Hy sê dat inwoners hoër op in die straat ook gekla het dat hulle diere as gevolg van die geknal, rusteloos was.
Volgens die huishulp wat alleen saam met die eienaar, me. Moodley, se dogter tuis was, was die seun en sy maat die skuldiges. Sy het nie die eienaar se nommer geken nie, en die koerant het versoek dat Moodley dit dringend kontak.
Daar word jaarliks berig oor hierdie euwel wat diere oraloor se lewens in ‘n nagmerrie omskep – dikwels met verreikende gevolge. Hierdie vreesbevange diere ervaar die geluide van klappers baie harder as die mens, en het in die verlede hulself al menigmaal beseer of self gesterf. Soos vorige jare, het die Dierebeskermingsvereniging (DBV) ook reeds ‘n versoek gerig in die Barberton Times-uitgawe van 19 November, dat die gemeenskap hul samewerking in die verband moet gee, maar dit wil voorkom asof dit op dowe ore geval het.
Die koerant doen vandag ‘n beroep op inwoners om nie vuurwerke aan te koop of te gebruik nie.
“Indien jy vuurwerke móét skiet, hou asseblief by die wat nie ‘n groot geraas maak nie,” het Marlies Liebenberg van die DBV gesê. Volgens haar is dit geen grap om ‘n vreesbevange hond wat probeer vlug, en deur ‘n skerp heining deurboor is, te red nie.
‘n Inwoner, Kobie Seeton, het navraag gedoen oor die wetgewing rondom die skiet van vuurwerke.
Volgens Liebenberg is daar ‘n verbod op die verkoop van vuurwerke sonder ‘n permit.
“Normaalweg kondig elke stadsraad sy eie verordeninge af. Party verbied dit binne die munisipale grense en ander het spesifieke plekke wat aangewys word waar mense kan gaan klappers skiet. Elke munisipaliteit het die reg om self daaroor te besluit.” Liebenberg het gesê dat sy ‘n geruime tyd gelede reeds vanaf verskeie plekke die vuurwerk-ordonnansies in die hande gekry en die saam met ‘n motivering aan die stadsraad voorgelê het. Die doel was om te versoek dat Umjindi Munisipaliteit ook ’n sodanige ordonnansie kan afkondig.
“Dit is deur die Barberton Bird Club en die Belastingbetalervereniging ondersteun, maar tot dusver het niks gebeur nie, dus is ek bevrees dat daar plaaslik geen beperking op die skiet van vuurwerke is nie.”
Intussen het die koerant ook die munisipaliteit se webwerf besoek. Onder die opskrif “Review of Existing By-laws”, is daar ‘n dokument getiteld “Street and Miscellaneous By-laws”. Dit is volgens die webwerf op 5 November opgedateer. Punt 40 van 42 handel oor vuurwerke, en dit lees soos volg:
Kragtens die bepalings van artikel 156 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 is die Umjindi Plaaslike Munisipaliteit verordening, soos volg:
40. Afvuur van vuurwerke verbied
1) Niemand mag in ‘n straat of openbare plek of op enige private eiendom binne die Umjindi Plaaslike Munisipaliteit enige vuurwerk ontlaai sonder die uitdruklike skriftelike toestemming van die hoof van openbare veiligheid nie.
2) Enige persoon wat versuim om te voldoen aan die bepalings van subartikel of dit oortree (1), skuldig is aan ‘n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar met ‘n boete van nie meer as R2 000 of by wanbetaling gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens drie maande, of met beide sodanige boete en gevangenisstraf.
3) Enige persoon wat subartikel (1) verontagsaam mag skuld erken deur die betaling van ‘n boete wat nie R500 oorskry nie.
Barberton Times het die skrywe van Liebenberg, sowel as hierdie stadsverordering op die munisipale webwerf deurgestuur aan direkteur Johan Badenhorst, Umjindi Munisipaliteit se hoof operasionele beampte.
Badenhorst was andersins betrokke, maar die koerant vertrou hy sal spoedig reageer.
