Hard newsLocal newsNews

Vuurwerke: Wat doen Barberton met wetgewing?

Die wetgewing op die gebruik van vuurwerke blyk met die eerste oogopslag waterdig te wees.

Die wetgewing op die gebruik van vuurwerke blyk met die eerste oogopslag waterdig te wees.

Na meer as drie jaar se ondersoek het Barberton Times egter tot die gevolgtrekking gekom dat dit glad nie die geval is nie, veral nie sover dit die implementering van hierdie dorpswette aangaan nie.

Die koerant het Dinsdagoggend ‘n antwoord van Johan Badenhorst ontvang op ons skrywe aan hom in sake die wetgewing rondom vuurwerke (Barberton Times, 26 November). Hierdie publikasie is intussen ook ingelig dat Badenhorst se titel in Afrikaans, hoofbedryfsbeampte is – nie hoof- operasionele beampte, soos ons deur een van sy kollegas ingelig is nie. Barberton Times bedank hom vir sy spoedige reaksie.

Badenhorst het bevestig dat die dokument waarna die publikasie verwys het, slegs ‘n konsep (draft) is.

“Onder dieselfde hofie is daar heel onder ‘n kennisgewing wat lees ‘Review of existing By-laws’ waarin die publiek kennis gegee word dat die raad van voorneme is om die vermelde dorpswette te hersien, soos per die konsepwette wat daar gepubliseer is. Alvorens ‘n dorpswet regsgeldig is, moet dit ‘n voorgeskrewe prosedure volg waarna dit in die provinsiale koerant gepromulgeer word. Eers dan kan dit toegepas word. Die voorafgaande het die proses in werking gestel,” sê Badenhorst.

Hy sê dat dit voorts net vredesbeamptes is wat gemagtig is om munisipale wette af te dwing, soos SAPS-lede, wat gemagtigde vredesbeamptes is.

“Op die huidige oomblik beskik die munisipaliteit nie oor ‘n wet wat die afvuur van vuurwerke binne die munisipale gebied reguleer nie en is daar vanselfsprekend nie ‘n dorpswet wat afdwingbaar is nie,” sê Badenhorst.

“Al hierdie antwoorde lyk goed op papier, maar het jy al probeer om die SAPS so ver te kry om iemand aan te vat oor vuurwerke gedurende die feesseisoen? Dit is ‘n mors van tyd!” sê ‘n ontstoke diereliefhebber.

Volgens ‘n dokument wat deur die SAPS uitgereik is en deur Arive Alive vroeër in November versprei is, word die publiek daaraan herrinner dat vuurwerke in Suid-Afrika kragtens die Wet op Plofstowwe, 1956 (Wet No 26 van 1956) beheer word. Hiervolgens is alle stasiekommissarisse regdeur die land reeds voorsien van afskrifte van hierdie verordeninge.

Die publiek moet ook kennis neem dat die blote besit van vuurwerke nie ‘n oortreding is nie, maar wanneer die besit daarvan strydig is met regulasies, kan sodanige vuurwerke gekonfiskeer word en sal daar kragtens die relevante bepalings van die Strafproseswet, 1977 (Wet No 51 van 1977) teen die persone opgetree word. In ‘n persverklaring wat verlede jaar namens die DBV uitgereik is, word die relevansie van vuurwerke in Suid-Afrika bevraagteken. Daarin vra hulle hoekom Suid-Afrikaners moet deel hê aan ‘n viering soos Guy Fawkes aangesien dit geen betrekking op ons land en sy mense het nie. Ook word daar aangaande Diwali dieselfde vraag gevra: Hoekom? Diwali is ‘n fees van lig en skoonheid, waarom moet dit met harde geknal gepaard gaan?

Intussen het die DBV eienaars van troeteldiere versoek om verantwoordelik op te tree en hul diere se veiligheid en gerief te verseker. “Diere se gehoor is baie sensitief. ‘n Hond kan hoor wanneer ‘n sprinkaan eet. Dink net hoe vuurwerke vir hulle moet klink,”

Die volgende raad word aan troeteldiereienaars gegee:

• Bly by jou troeteldiere.

• Hou hulle binnenshuis.

• As ‘n dier reeds sensitief van aard is, raadpleeg jou veearts vir advies. Moenie medikasie toedien wat bedoel is vir mense nie.

• Sorg dat jou dier die nodige identifikasie het – soos ‘n naamplaatjie.

• Gaan gee rampokkers wat hulle skuldig maak aan onwettige gedrag met betrekking tot vuurwerke, dadelik by die Suid-Afrikaanse Polisiediens aan.

Marcelle Hoffman, voorsitter van die Barberton DBV, vra dat eienaars veral let op die gebruik van naamplaatjies vir hul diere. “Ons versoek mense om hul kontaknommers op hierdie plaatjies aan te bring. Tydens die feesseisoen word ons oorstroom deur diere wat onder voertuie se wiele beland of verlore raak. Die meeste eienaars is dan weg met vakansie en dit maak dit haas onmoontlik om die diere met die eienaars te herenig wanneer hulle in Januarie terugkeer huis toe,”

Barberton Times het ‘n skrywe aan Johan Badenhorst gerig en glo hy sal binnekort reageer.

Die vrae is gebasseer op die feit dat die koerant die stadsraad al van 2011 oor dieselfde onderwerp nader. Na drie jaar is die antwoord steeds dieselfde en géén vordering is tot dusver gemaak nie.

Hoe lank gaan dit nog neem voor die Umjindi Stadsraad besluit om die nodige te doen?

Ander munisipaliteite pas reeds hierdie wet toe – wat is die oponthoud voor hierdie wetgewing ook in Barberton van krag sal wees?

Na herhaaldelike pogings om die stasiebevelvoerder, Lindani Sunbright Ndlovu, telefonies te kontak om te hoor watter, indien enige, plan van aksie in plek is om die onwettige gebruik van vuurwerke tydens die komende feesseisoen te hanteer, het die publikasie dit laat vaar.

Tydens een oproep het die publikasie meer as 15 minute aangehou en tydens die volgende drie is die telefoon summier neergesit. Dinsdagoggend het ons ‘n skrywe, per hand, by die polisiestasie afgelewer. Dit sal saam met ander inligting wat ons van die stadsraad aangevra het, sal in die opvolgartikel verskyn.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button