Spontane balspel ontaard in span wat vir niks stuit nie
Op 12 Mei vanjaar het Maritza Uys, uit moedeloosheid omdat die o/9-rugby nie hierdie seisoen op dreef gekom het nie, 'n sokkerbal gaan koop en met drie seuntjies die dorpsveld aangedurf om hulle te leer sokker speel.
KOMATIPOORT – Op 12 Mei vanjaar het Maritza Uys, uit moedeloosheid omdat die o/9-rugby nie hierdie seisoen op dreef gekom het nie, ‘n sokkerbal gaan koop en met drie seuntjies die dorpsveld aangedurf om hulle te leer sokker speel.
Nodeloos om te sê, het Maritza geen snars van sokker geweet nie en sy en die seuns het soos besetenes die hele lengte van die veld op en af geskop, todat hulle pootuit bly lê het.
Die volgende dag is hulle met versterkings terug. Die groep het tot ses gegroei, nadat Estie de Necker en Bokka Sckalkwyk ook hulle gewig kom ingooi het.
Na twee weke was daar nege spelers. Annette Olivier het voorgestel dat die Oostenryker, Thomas Schmuk genader word om sy sokkerkennis te kom inploeg.
Thomas was summier vuur en vlam, en kort voor lank was daar digby 30 kinders, uitgerus met balle, oefenkegels, sokkerhemde, broeke en sokkerskoene. Die kinders het pligsgetrou elke middag om 17:00 kom oefen, en sommer gou het Komatipoort ‘n lewendige en entoesiastiese sokkerklub gehad, met kinders wat by die dag hulle vaardighede onder Thomas se streng leiding verbeter het.
Piet van Dyk, ‘n rugbyliefhebber wat eers langtand aan die idee van ‘n sokkerklub gekou het, het gou die kinders, onder andere sy eie seun Neelsie, se entoesiasme gesien, en kom hand bysit, sodat hy Thomas in die groot afrigtingstaak kon ondersteun.
Ander ouers, onder andere Marina van Zyl, het ook ‘n getroue helper geword, wat die klub met logistieke hulp en aanmoediging ondersteun en ontwikkel het.
Volgens Maritza het die toetrede van die meer kundige afrigters haar van haar afrigtingstaak verlig, en het sy bloot ‘n toeskouer geword wat nou met groot trots en dankbaarheid toekyk hoe die klub onder Thomas se leiding floreer, en hoeveel ondervinding en genot die sokkerspelery die kinders besorg.
Volgens haar het Thomas groot planne om die klub tot hoër hoogtes te neem en kan Komatipoort uitsien na die opkoms van ‘n sterk mededingende sokkerklub uit sy geledere.
Die afgelope week, sewe maande later, met ongeveer dertig spelers en verskeie aanhangers, het die klub sy afsluiting in die vorm van ‘n uitdaagwedstryd tussen die ouers en die kinders gehou. Tydens die spanpraatjie het een van die ouers vir Thomas sy span hoor toespreek. Thomas het glo voorspel dat hulle kon verwag dat die ouers tydens die eerste helfte ‘n dapper poging sou insit, maar teen die tweede helfte gedaan sou wees.
Die ouers het daarop geantwoord met ‘n uitdagende spankreet, min wetende hoe reg Thomas was… Hoewel die hakskeensenings en dyspiere ongeskonde gebly het, het die grootmense teen die tweede helfte so erg gehoes en gehyg, dat die kinders die een doel ná die ander ingeskop het. Komati se sokkerspan is ‘n gedugte opponent, dit moet die ander dorpe sommer nou al weet!
Na die uitmergelende wedstryd het die klub by die Gryshuys gaan swem en boeries geëet. Thomas is op gepaste wyse en met boeregasvryheid bedank vir die vreugde wat hy in kinderlewens gebring het, en die nuwe horisonne wat hy vir hulle oopgemaak het.
