Visvang talent ontwikkel
Nadat Joshua die visstok in Februarie ontvang het, het die visvang-gogga hom behoorlik gebyt
BURGERSFORT- Danksy ‘n geborgte visstok en katrol het Joshua van Dyk (11) in ‘n talentvolle jong visserman ontwikkel.
“Ek het in Februarie die visstok en katrol aan my stiefkleinseun, Joshua, geskenk. Sy pa het voorheen vistoerusting hier kom koop en my vertel dat Joshua visvang geniet. Dis toe dat ek besluit het om hom met sy stokperdjie te help. Ek het glad nie gedink hy sou kompetisies daarmee wen nie,” verduidelik Kotie Baxter, eienaar van Ciento’s Trading.
Nadat Joshua die visstok in Februarie ontvang het, het die visvang-gogga hom gebyt en het hy by die Oosrand-hengelklub aangesluit. Sedert sy aansluiting, het hy ‘n groot kompetisie gewen waar verskeie damme besoek word om verskeie visspesies te vang. Joshua het die grootste verskeidenheid spesies tydens die kompetisie uitgetrek
“Ek is baie bly ek het gewen. Ek hou baie van visvang, dit is my gunstelingstokperdjie. Ek sien baie uit na nuwe kompetisies volgende jaar,” vertel hy. Baxter het nou vir Joshua ‘n nuwe visstok en katrol geskenk vir kompetisies in 2015. “Ek het vir Joshua ‘n splinternuwe Shimano-visstok en katrol geskenk, ek weet sommer hy gaan baie goed vaar,” het Baxter bygevoeg.
