Jong danser kan sing óók
"Dit het my veilig laat voel deur te weet iemand gee professionele raad met alles wat ek aanpak. Ek het in die laaste maand soveel gegroei as solo-kunstenaar en kan nie glo al die geleenthede wat Timeless Artist Management vir my bied nie."
MBOMBELA – “Ek het vir die eerste keer regtig gevoel of my drome kan waar word.” So vertel Jason du Plessis na afloop van sy eerste optrede agter die mikrofoon.
Jason het reeds op ‘n baie jong ouderdom bekendheid vir sy vervolmaakte danspassies as Ierse danser verwerf, maar Donderdagaand het hy Laevelders aangenaam verras toe hy agter die mikrofoon tydens ‘n Steyn Alive Open Mic-aand by Stoep inskuif.
Hy het onlangs by Timeless Artist Management aangesluit onder leiding van die uiters bekwame Jacques Lombard wat vroeër as bestuurder en agent van die sangeres, Corlea Botha opgetree het.
Volgens Lombard het hy onmiddellik potensiaal in Jason raakgesien, en dié jong man het die afgelope maand leiding van die sangeres, Joanne Fisher Steyn ontvang, waar daar veral op sy openbare beeld en styl gefokus is.
“Dit het my veilig laat voel deur te weet iemand gee professionele raad met alles wat ek aanpak. Ek het in die laaste maand soveel gegroei as solo-kunstenaar en kan nie glo al die geleenthede wat Timeless Artist Management vir my bied nie. Jacques hou van groot dink soos ek as kunstenaar, hy druk my soms buite my comfort zone met groot sukses. My loopbaan word volgens plan uitgewerk en ek weet presies wat vir my wag en waaraan ek moet werk. My styl, genre waarin ek gaan beweeg, publieke optredes word haarfyn beplan en uitgevoer,” het Jason na die vertoning gesê.
Met dié splinternuwe verhoogbaadjie het hy treffers van Elvis Blue, John Legend en selfs die Afrikaanse sangsensasie, Jay vertolk en die vertoning met ‘n duet saam met Steyn afgesluit.
Nog twee nuwelinge, Shanel van Zyl en Christelle Olivier het hul verskyning gemaak en net soos Jason, met die eerste oogopslag die gehoor op hul tone gehad.
Van Zyl wat ‘n leerling aan Hoërskool Bergvlam is en met nierontsteking in die hospitaal opgeneem was, is drie uur voor haar vertoning tydelik ontslaan om haar droom te verwesenlik. Sy het die gehoor in vervoering gehad met die liedjie “American Honey”. Sy het die aand as “amazing” beskryf en haar dankbaarheid teenoor Lombard vir die geleentheid uitgespreek.
Hoërskool Nelspruit se eie blonde Ria Nel, oftewel Christelle Olivier, het op haar beurt die gehoor met treffers soos “Swart Koffie” van Corlea Botha en 4 Non Blondes se “What’s Going On” vermaak.
Jason sal op 17 April vir ‘n tweede keer saam met Steyn by die Timeless Face-kompetisie te sien wees en ook deel wees van die Timeless Face-gala-aandproduksie waar Corlea Botha sal optree. Of “Swart Koffie” ooit weer dieselfde sal wees, bly tot daardie aand ‘n ope vraag.
