Hard newsLocal newsNews

Misdaadbekamping begin by elkeen van ons

'n Gemiddeld van 43 mense word daagliks in die land doodgemaak en gedurende 2011/12 is daar nagenoeg 16 000 mense in slegs 12 maande in in die land vermoor.

“Almal praat daaroor. Mense is toenemend bekommerd daaroor. Gemoedere styg en plek-plek bereik dit kookpunt. Frustrasiedrempels word oorgesteek; emosies van magtelose woede loop hoog; ‘n gevoel van onveiligheid en selfs vrees pak mense beet – ons word gedwing om agter hoë mure en veiligheidsheinings te skuil en ander vlug selfs landuit.”

Só skets die Christelike Lektuurfonds (CLF) die geweld- en misdaadrealiteit wat Suid-Afrikaners elke dag in die gesig staar.

Maar as jy dink dit is oordrewe, kyk eers na die syfers volgens Misdaadstatistiek Suid-Afrika: Sedert 2004 is daar meer as 161 000 mense in die land vermoor. ‘n Gemiddeld van 43 mense word daagliks in die land doodgemaak en gedurende 2011/12 is daar nagenoeg 16 000 mense in slegs 12 maande in in die land vermoor.

Sowat 5 900 misdade word daagliks by die ongeveer 1 118 polisiestasies regoor die land aangemeld en alhoewel die wêreld se gemiddelde moordratio 7,6 per 100 000 mense is, is dit ‘n verbysterende 36,5 per 100 000 in Suid-Afrika. Volgens Misdaadstatistiek SA het die land na beraming verder ongeveer R650 biljoen oor die afgelope 18 jaar weens korrupsie verloor.

In Mpumalanga is ‘n totaal van 120 204 misdade in 2014 aangemeld en Mbombela is die distrik met die derde-hoogste aantal misdade in die provinsie – met ‘n totaal van 7 263. Emalahleni (Witbank) beklee die eerste posisie met ‘n totaal van 10 747 misdaadvoorvalle en Middelburg is tweede met 7 715.

Mbombela is verder die gebied in Mpumalanga met die hoogste dwelmverwante misdade – met ‘n totaal van 336 en beklee ook die eerste posisie vir kommersiële misdaad met ‘n totaal van 854 vir 2014.

Mbombela het die tweede hoogste hoeveelheid inbrake in nie-residensiële persele sowel as winkeldiefstal in die provinsie. ‘n Totaal van 455 nie-residensiële inbrake is gedurende 2014 aangemeld en 440 winkeldiefstalvoorvalle.

Mbombela is derde op die lys vir algemene roof (188), strafbare manslag (68), diefstal vanuit ‘n voertuig (1 070) en die bestuur van ‘n motorvoertuig onder die invloed van alkohol en dwelms (169). Daar is ook agt voorvalle van ontvoering in Mbombela gedurende 2014 en 199 voorvalle van roof met verswarende omstandighede aangemeld.

Die CLF meen bogenoemde statistiek het ‘n kommerwekkende effek op gemeenskappe en sê dat dit belangrik is om die oorsake van misdaad en geweld in gemeenskappe so ver moontlik te verwyder of bevoorkom.

“Die oplossing is nie net om die deksel op die pot te probeer hou nie, maar om die vuur wat die pot laat kook, te doof of ten minste laer te laat brand.”

Die CLF meen misdaad en geweld is ‘n ingewikkelde verskynsel en beklemtoon die belangrikheid daarvan dat dit op verskillende en alle vlakke van die gemeenskap hanteer moet word. “Dikwels verwag ons dat die staat of die polisie alleen verantwoordelikheid moet neem, terwyl hulle in ‘n sekere sin maar net die deksel op die pot kan probeer hou.”

Die CLF sê dat die werklike oorsake van geweld egter iets is wat net deur die gemeenskap self uitgeroei kan word.

Volgens die CLF veroorsaak die volgende geweld en misdaad:

• Verval van morele- en gesinswaardes.

• Minagtige van landswette: Geweld begin waar mense in die kleinste sake nie meer die landswette gehoorsaam nie.

• Gebrek aan respek vir die medemens, hul lewens en besittings: ‘n Lewe is nie meer kosbaar nie; vir ‘n selfoon of vir R100 word iemand maklik vermoor.

• Materialisme en geldgierigheid: Mense streef na meer mag en besittings.

• Armoede, werkloosheid en ‘n gevoel van magteloosheid om vir jou gesin te sorg.

• Alkoholisme en ander verslawings

• Rassespanning en rasse-vooroordeel.

Wat kan ons doen?

• Neem verantwoordelikheid vir mekaar se veiligheid: Wees waaksaam en moet jouself en ander nie onnodig aan situasies van geweld blootstel nie.

• Samewerking met polisie

• Verwerp die idee dat misdaad en geweld ‘n probleem is wat net beperk is tot bepaalde groepe.

• Reik uit na slagoffers van misdaad en geweld sowel as na veroordeelde misdadigers in tronke.

• Reik uit na lede van die polisie, korrektiewe dienste en ander sektore van die sekuriteitsgemeenskappe deur omgee-aksies.

You might also be interested in:

Berede eenheid saal op om misdaad te bekamp

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button