Geliefde papegaai verdwyn spoorloos by bekende kwekery
"Sy was 'n geliefde voël, maar nou hang haar mandjie leeg."
Personeel en klante van Montana Kwekery is weer vir die tweede agtereenvolgende jaar “in stukke” oor die verlies van ‘n geveerde vriend. Dié keer is dit Pietie, ‘n geliefde Sun Conure-papegaai, wat spoorloos verdwyn het. Volgens me. Charmaine van Niekerk, wat by die troeteldierafdeling betrokke is, vermoed hulle dat iemand Pietie gesteel het.
Van Niekerk verduidelik dat hulle op 14 Maart slegs twee personeellede by die werk was en dat hulle baie mense by Pietie se hok gesien saamdrom het.
“Ons het niks vermoed nie, want Pietie het al sy eie fan club gehad en hier was gereeld klante wat spesiaal vir hom kom kuier het.”
Slegs enkele oomblikke later het Charmaine besef dat hy nie meer daar is nie.
“Dit was reeds te laat. So iets gebeur vinnig,” het sy hartseer gesê.
Pietie is deur ‘n klant aan die kwekery geskenk nadat Popeye, ook ‘n Sun Conure-papegaai, verlede jaar verdwyn het.
Volgens Van Niekerk was Pietie, wat toe die hele tyd ‘n wyfie was, lief daarvoor om buite haar hokkie te sit en het sy gereeld in mense se handsakke en hemde geklim. “Ons het aanvanklik gedink Pietie is ‘n mannetjie, maar toe verras ‘hy’ ons een oggend met eierjies in ‘sy’ nes, lag sy en sê dat alhoewel hy die vreemde gewoonte gehad het en kort-kort verdwyn het, sy altyd weer terugbesorg is.
“Sy was ‘n geliefde voël, maar nou hang haar mandjie leeg.”
As enigiemand inligting oor Pietie het, skakel die kwekery by 013-741-4612.
