Foto’s: Een sterf en ses beseer in trompop botsing op R40
Dit was die derde ongeluk op dié pad op dieselfde dag.
BARBERTON – ‘n Botsing reg van voor het Vrydagmiddag ‘n lewe op die R40 tussen Mbombela en Barberton op die Hilltoppas geëis.
Dit was die derde ongeluk op dié pad op dieselfde dag.
Volgens Netcare 911 se skakelbeampte, mnr. Chris Botha, is ses persone wat ligte tot ernstige beserings opgedoen het, op die toneel behandel waarna hulle na ‘n nabygeleë hospitaal geneem is.
Verkeer het vir kilometers bankvas gestaan terwyl die brandweer gespook het om die oorledene, wat ook die bestuurder van een van die voertuie was, uit die wrak te sny.
Mnr. Chris Potgieter, wat eerste op die toneel was, het aan Laevelder gesê dit blyk of die wit Corola wat in Barberton se rigting onderweg was, vermoedelik gegly en met aankomende verkeer gebots het.
‘n Woordvoerder vir die Departement van Gemeenskaps-veiligheid, Sekuriteit en Skakeling het die voorval bevestig en gesê die polisie ondersoek die saak.
‘n Polisievoertuig en Mahindra het vroeër die dag in twee afsonderlike voorvalle op dié pad omgeslaan. Die bestuurder van die polisievoertuig het slegs geringe beserings opgedoen.
Twee insittendes van die Mahindra is egter na ‘n nabygeleë hospitaal geneem vir behandeling nadat die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
Volgens die departement blyk dit of die reënerige weerstoestande waarskynlik ‘n bepalende faktor in die ongelukke was.







