Hard newsLocal newsNews

Vrou ontken honde word verwaarloos

'n Verpletterde me. Lien Graves het Sondag huilend aan Laevelder vertel dat haar hele lewe na dié voorval verwoes is. "Ek is stukkend. Ek sien heeltyd die hondjies voor my en as ek koud kry in die nag wonder ek waar hulle is."

WATERVAL BOVEN – ‘n Bejaarde inwoner is “in stukke” nadat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) onlangs haar geliefde hondekinders kom vat het.

‘n Verpletterde me. Lien Graves het Sondag huilend aan Laevelder vertel dat haar hele lewe na dié voorval verwoes is. “Ek is stukkend. Ek sien heeltyd die hondjies voor my en as ek koud kry in die nag wonder ek waar hulle is.”

Die DBV het die voorval bevestig en gesê ‘n inwoner het gekla dat die diere in “vuil en parasitiese” omstandighede aangehou word. “Ons het op 1 April op die honde beslag gelê in ooreenstemming met Regulasie 468 van die Dierebeskermingswet 71 van 1962,” het inspekteur me. Shan Paton van die Laeveld DBV gesê. Volgens Paton is die organisasie in die proses om ‘n klag teen Graves te lê.

Die publikasie het haar Sondag besoek. Sy het vertel dat die DBV saam met die polisie daar opgedaag en glo geskree het dat hulle die deur sou afbreek as sy nie oopmaak nie. “Ek was doodbang,” het Graves gesê.

Sy sê sy weet haar huis is nie altyd skoon nie en dat haar banke stukkend is, maar volgens haar was haar hondjies altyd ‘n prioriteit. “Hulle het nooit honger gely nie. Hulle het elke oggend hawermoutkoekies gekry en ek het vir hulle hondepille, hoenderlewertjies, pap of maalvleis gegee.”

Laevelder het vertroulik verneem dat Graves soms die diere in die huis toegesluit het. Sy het dit erken. “Die bure se seuntjie het my honde met klippe gegooi as hulle buite was. Wat moes ek doen? Ek het altyd skoongemaak agter hulle tot die beste van my vermoë en gereeld buite met hulle gespeel.”

Graves glo vas die bure voer ‘n persoonlike vendetta teen haar en dat dit húlle was wat die DBV ontbied het. Laevelder het die bure genader vir kommentaar. Hulle het ontken dat dit hulle was en gesê hulle seun het nie Graves se honde met klippe bestook nie.

Hulle het wel gekla dat hulle en ander inwoners die DBV van perde in die dorp ingelig het wat mishandel word. “Die DBV het egter gesê hulle gaan nie optree nie omdat die perde nie ondervoed is nie.

Ander inwoners het ook gekla dat hul klagtes op dowe ore val. “Daar word bloot gesê dat Waterval Boven nie in hulle area val nie en dat hulle daarom nie gaan reageer nie.”

Die koerant het Maandag die DBV se nasionale kantoor geskakel en is na die plaaslike tak terugverwys. Paton is toe vir kommentaar gekontak waarop sy die koerant veroordeel het omdat dit die nasionale tak vir kommentaar genader het. Sy het ook gesê: “I do not want the media on my *rse,” en die foon neergesit.

Laevelder het nogtans ná die gesprek ‘n e-pos aan Paton gestuur en wéér vir kommentaar gevra. Dit was teen druktyd nog nie beantwoord nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Lowvelder in Google News and Top Stories.

Back to top button